Hakuna Matata, nóg ʼn ‘Lion King’-fliek op pad

Die fliek sal in Desember op die grootskerm wees. (Foto: The Lion King/Instagram)

Die koning van die Bosveld is terug, dié keer om die verhaal van Mufasa se grootwordjare te vertel.

ʼn Nuwe aflewering in die The Lion King-fliekreeks, Mufasa: The Lion King, sal later vanjaar die grootskerm tref. Die fliek volg Simba, die koning van die Pride Lands, wat vasberade is dat sy eie spruit in sy voetspore volg. In die proses word Mufasa se grootwordjare verken en onder die vergrootglas geplaas.

Die fliek is in dieselfde styl gemaak as die 2019-weergawe van The Lion King, en ʼn hele paar bekende stemme het na die mikrofoon teruggekeer.

Donald Glover sal weer die rol van Simba speel, Beyoncé dié van Nala en Chiwetel Ejiofor as Scar. Blue Ivy, Beyoncé se dogter, sal gehoor word as die stem van Kiara, Simba en Nala se dogter.

Billy Eichner keer terug as Timon en Seth Rogen sal weer as Pumba gehoor word.

John Kani vertolk weer die rol van Rafiki en neem dié keer ook die rol van die storieverteller in.

Barry Jenkins, die regisseur van die fliek, is veral beïndruk met die ma-en-dogter-span waarin Beyoncé en Blue Ivy uitgeblink het.

“Om Beyoncé te kon sien ma-wees, op en agter die skerm, en hoe dit die fliek en haar werk beïnvloed het, was wonderlik,” het Barry aan People-tydskrif gesê.

Die fliek beloof om, nes die ander flieks, ʼn heerlike musiekproduksie ook te wees. Lin-Manuel Miranda, van Hamilton- en Encanto-faam, is aan stuur van die musiek in die fliek.

The Lion King het ʼn ongelooflike musikale nalatenskap met musiek van die beste liedjieskrywers daar buite,” het Miranda oor sy bydrae tot die fliek gesê.

“Dit was heerlik om saam met Barry Jenkins te werk om Mufasa se storie lewe te gee, en ons kan nie wag dat gehore hierdie fliek in teaters beleef nie.”

  • Die fliek sal in Desember op die grootskerm wees.

Kyk die lokprent van Mufasa: The Lion King hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.