Hans steek binnekort Rubicon op silwerskerm oor

Pierre van Pletzen as Hans. (Foto: kykNET)

Afrikaans is binnekort terug op die grootskerm met die trefferboek, Hans steek die Rubicon oor, wat tot ʼn rolprent verwerk is met gesogte akteurs soos Pierre van Pletzen, Tobie Cronjé, June van Merch, Sandra Prinsloo en Nicola Hanekom in die hoofrolle.

Gegrond op die trefferboek deur die oud-joernalis en misdaadskrywer, Rudie van Rensburg, het Hans reeds vir vier boeke gesorg (met ’n vyfde op pad) en is Hans steek die Rubicon oor nie net vir RSG deur Tobie Cronjé voorgelees nie, maar is dit ook ’n treffer-eenmanstuk met Charlie Bouguenon wat verskeie rolle speel.

Die rolprentmakers Corné en René van Rooyen is aan stuur van sake. Hulle was ook vir trefferflieks soos Hollywood in my huis, Vaselinetjie en Toorbos verantwoordelik en het die gewilde TV-reeks Alles Malan geskep.

Die rolverdeling van Hans steek die Rubicon oor bederf fliekgangers met die room van Suid-Afrikaanse akteurs: Pierre van Pletzen as Hans, Tobie Cronjé as Vasie, June van Merch as Baby, Sandra Prinsloo as Liesbet, en Nicola Hanekom as Matrone.

Tobie Cronjé as Vasie. (Foto: kykNET)

Die jong akteur Juan-Pierre Moller is Esmeraldus, Danny Ross is Elvis, Diaan Lawrenson is Karla, en Ivan Abrahams is Jan Doppies.

“My oupa Inus van Rooyen word vanjaar 102 jaar oud en dit is deur hom wat ek vir Hans ontmoet het,” vertel Corné, die regisseur van die fliek.

“Hy het elke dag slaafs na die voorlesing op RSG geluister en homself so met Hans se missie – om op sy eie voorwaardes oud te word – vereenselwig. Op ’n manier is die fliek ’n huldeblyk aan my oupa wat nog springlewendig en gesond is.”

Om op die rolverdeling te besluit was nie maklik nie, sê Corné.

“Ek het geweet hierdie is my kans om met van die grootste name in die bedryf te werk; akteurs wat verantwoordelik was vir my droom om ’n fliekmaker te word. My eerste oproep was na Tobie en ná ’n lang gesprek is daar besluit dat Pierre van Pletzen die perfekte vryheidsvegter sou wees.

“Tobie het gesê die karakter Vasie lê hom baie na aan die hart. Die res was vanselfsprekend, want daar is niemand anders vir Baby en Liesbet as June en Sandra nie.”

Nicola Hanekom as Matrone. (Foto: kykNET)

Om die rol van Matrone te vul was egter ’n uitdaging, erken Corné.

“Ek moes myself afvra: Wie het die vermoë om onder die ‘oumensies’ se vel in te klim en hulle nie net fisiek nie, maar ook emosioneel in te hok? Nicola Hanekom se briljante oudisie het die hare in my nek laat opstaan en sy was die perfekte keuse. Dan is daar iets vars en opwindends met die nuweling Juan-Pierre in die rol van Esmeraldus.”

Corné sê sy grootste hoop is dat fliekgangers Hans steek die Rubicon oor in fliekteaters op die silwerskerm sal gaan beleef.

“Ek glo Hans het die krag om ’n wye verskeidenheid mense – oud en jonk – bymekaar te bring met ’n besonderse gedeelde ervaring in ’n teater met gehalteklank en -beeld wat aan die storie, musiek en ikoniese akteurs se fantastiese komiese spel reg laat geskied.

“Daar is soveel druk in die samelewing om jonk te bly dat ek opgewonde is om die ander kant hiervan te wys; hoe oud-word-op-eie-terme gevier kan word en baie opwindend kan wees. As jy Hans saam met drie generasies van jou familie gaan kyk, sal dit ’n familiefees in die kleine wees.”

Die draaiboek is deur Corné en René geskryf en die hoogsaangeskrewe Charl-Johan Lingenfelder was vir die musiek verantwoordelik.

Hans steek die Rubicon oor is in en om Kaapstad geskiet en word op 29 September uitgereik.

Die fliek is ook een van die speelfilms wat vanjaar gekeur is om op die kykNET Silwerskermfees, wat van 23 tot 26 Augustus in Kampsbaai plaasvind, te première.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.