Jong rolprentmakers baat by kortfliekprojek

(Foto: Maroela Media)

Vandat kykNET se Silwerskermfees die eerste keer in 2011 in Prins Albert aangebied is en later in The Bay Hotel in Kampsbaai, is sowat 160 kortflieks en 50 vollengte rolprente deur dié platform ontwikkel.

Dit is veral die kortfliekprojek wat elke jaar aan voornemende rolprentmakers die geleentheid bied om hul tande in hierdie medium te slyp.

Twee vollengte rolprente, Beurtkrag en Vlugtig, wat vanjaar op die fees ʼn première gehad het, is verwerkings van Silwerskerm-kortflieks. Volgens Ricky Human, programdirekteur van die fees, onderstreep dit die waarde wat hierdie mentorskapsprogram tot die plaaslike rolprentbedryf toevoeg.

Maroela Media het met ʼn paar jong rolprentmakers gesels wat vanjaar deel van die Silwerskerm-kortfliekprojek was.

Dian Weys, medevervaardiger, regisseur en draaiboekskrywer van Bergie, gesels oor die plaaslike kortflieklandskap en hoe dit met ander lande sʼn vergelyk.

In Weys se 8-minuut-fliek Bergie word ʼn wetstoepassingsbeampte wat haweloses moet verwyder, gekonfronteer met die lyding van ander. Die vraag wat dan ondersoek word, is of die beampte, deur sy lewe en loopbaan op die spel te plaas, waardigheid kan gee aan die dakloses wat sy pad gekruis het. Dié fliek het ʼn benoeming vir beste regie in die kortfliek-kategorie ontvang.

“Die plaaslike bedryf lyk baie goed. Ek weet nie van ʼn land wat soveel geleenthede gee vir jong rolprentmakers om hulle kortflieks te ontwikkel en te maak nie. Ons kry hier regtig soveel oefening om ons vaardighede te slyp en blootstelling te kry vir die flieks wat vervaardig word.”

Dian Weys se kortfliek ‘Bergie’ wys by vanjaar se Silwerskermfees .(Foto: Retha Ferguson)

Die verskil tussen Suid-Afrika en oorsese lande, veral in Europa, is dat daar meer finansiële steun van die regering af is vir die vervaardiging van kortflieks, meen Weys.

“Regerings in die buiteland is meer geneë om geld te gee, anders as hier in Suid-Afrika. Plaaslike rolprentmakers maak grootliks staat op private finansiering van instansies soos M-Net en kykNET,” sê hy.

Weys se raad aan voornemende rolprentmakers is om nie oorhaastig met die teks te wees nie. Hy sê hy ondersteun die denkwyse dat ʼn mens eerder langer aan die draaiboek werk voordat jy halsoorkop begin verfilm. “Ek is van mening dat ʼn fliek se sukses deur die gehalte van die teks bepaal word.”

Omdat die fees weens die Covid-19-pandemie uitgestel is, het hy omtrent ʼn jaar gehad om aan Bergie se teks te skaaf en skuur. Sy draaiboek is sowat 11 keer herskryf en uiteindelik is die tiende weergawe verfilm.

“My mentors het daarop aangedring dat ek dit herskryf. Ek sou eintlik tevrede gewees het om die sesde weergawe te verfilm. Maar dit help om deur te druk, want as jou teks goed ontwikkel is, is die res van die pad aansienlik makliker.”

Weys is ook die skrywer en regisseur van die kortfliek Versnel wat in 2017 pryse vir beste rolprent en draaiboek in die kort-kortfilmkategorie by kykNET se Silwerskermfees gewen het. Versnel het sedertdien op 15 rolprentfeeste vertoon, waaronder vyf Oscar-kwalifiserende feeste.

Marista van Eeden se Bennie Bingo-kortfliek gaan oor ʼn verlore seun wie se vreemde transformasie en gepaardgaande selfopgelegde stilswye in die familie se jaarlikse tradisie – ʼn bingo-kampioenskap – lelik beduiwel word in ʼn komedie-drama.

Dit is die eerste keer dat Van Eeden ʼn konsep vir die Silwerskermfees se kortfliekprojek ingeskryf het. Nadat sy as een van die finaliste gekies is, het sy die rol van draaiboekskrywer en regisseur ingeneem.

“Die Silwerskermfees is ʼn wonderlike platform. Daar is deurlopend mentors wat raad gee en jou deur die skryfproses lei, en ek het ervaar hoe dit my gevorm het om ʼn produk te lewer waarop ek trots kan wees.

“Ek is ongelooflik dankbaar daarvoor, want ek sou nie op my eie kon kom waar ons vandag is sonder daardie leiding nie,” sê sy.

Bennie Bingo het ʼn Silwerskermprys ontvang vir beste oorspronklike musiek vir ʼn kortfliek. Die musiek is deur Ryno Posthumus gekomponeer.

Émil Haarhoff, wat in die rol van Bennie Swanepoel te sien is, praat oor sy stil karakter en vertel dat dit moeilik was om op nieverbale maniere te moes kommunikeer. Die uitdaging lê daarin dat Bennie baie wou sê, maar nie kon praat nie.

Nietemin was dit ʼn verrykende en positiewe ervaring om deel van die kortfliekprojek te wees en as akteur uitgedaag te word.

“Marista se teks het ʼn paar uitdagings gehad. Dit is tog altyd lekker as iemand skryf en hulle gooi vyf klippe en ʼn berg voor jou wat jy moet oorkom.

Marista van Eeden, draaiboekskrywer en regisseur van die kortfliek “Bennie Bingo”, en Émil Haarhoff wat in die rol van Bennie Swanepoel te sien is. (Foto: Retha Ferguson)

Oor die kortflieklandskap sê Van Eeden dat hoewel sy nie so lank al in die bedryf is nie, is die gewaagdheid en uitdaging van grense vir haar opvallend.

“Wat ons hier op die fees sien is grensverskuiwende werk en ek dink dit is ongelooflik opwindend. As ʼn mens kyk na die plaaslike bedryf, kry jy nou ʼn kortfliek in byna enige genre.”

Haarhoff stem saam met Van Eeden dat die verskeidenheid flieks wat gemaak word ʼn wonderlike platform bied, ook vir akteurs.

“Wanneer kunstenaars die kans kry om te speel, is dit wanneer daardie magiese elemente ontwikkel. Ons is nie bang om te waag nie, en die kortfliekmedium is ideaal vir eksperimentering.”

Van Eeden en Haarhoff se raad aan jong rolprentmakers is om te waag en om nie deur foute ontmoedig te word nie.

“Ek dink daar is soveel maniere om ʼn fliek te maak, maar die maklikste is om net te begin. Verfilm ʼn konsep met jou foon, redigeer dit en wys die produk vir mense. Die grootste struikelblok is baie keer jou eie perfeksionisme en drome van hoe dit behoort te lyk,” sê Van Eeden.

Volgens Haarhoff is dit dikwels die geval dat mense die behoefte het om ʼn perfekte eerste weergawe te skryf. Sy raad is om net weg te val en te skryf, al maak dit nie sin nie.

In aansluiting hierby sê Haarhoff dat mislukkings deel van die groeiproses is en dat jong rolprentmakers ontvanklik daarvoor moet wees. “Jou mislukkings is nie so sielsdodend as wat jy dink nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.