Leon van Nierop se fliekresensie: The Invisible Man

The Invisible Man ****
Met Elizabeth Moss en Oliver Jackson-Cohen
Regisseur: Leigh Whannell

Wanneer was jy laas regtig bang in ʼn fliek? Daardie vasgryp aan jou fliekmaat-bang en hardop uitroep van skok? En die gevoel van ʼn heerlike yskoue krieweling wat vanaf jou kroontjie teen jou agterkop tot in jou nek afkruip?

Jy kan nie meer onthou nie? Dan is hierdie bobaas-riller vir jou.

Diegene wat Alfred Hitchcock nog onthou en bewonder sal gou agterkom dat die slim regisseur hom naboots en sy tegnieke maar al te goed ken. Jy word dikwels banger gemaak vir dit wat jy nié kan sien nie as grieselgeeste wat voor jou verskyn. Wel. In sommige gevalle!

In hierdie blinkslim-rolprent ontsnap ʼn mishandelde vrou van haar aantreklike man met die verleidelike slaapkamer-oë (knap gespeel deur Oliver Jackson-Cohen). Die briljante Elizabeth Moss het hierna die rolprent vir haarself. Sy is in feitlik elke toneel, en gaan woon ná sy dood by ʼn vriendin. Maar skielik begin ʼn onsigbare teenwoordigheid haar teister. En gou besef sy dat haar oorlede man uit die dood opgestaan het en haar nou in onsigbare vorm aanrand en terroriseer. Hoe baklei jy teen iets wat jy nie kan sien nie maar net kan voel?

ʼn Waarskuwing: die beperking is niemand onder 18 nie as gevolg van erge traumatiese en skrikwekkende tonele. Hoekom dit dan steeds aanbeveel? Want ʼn mens verwerk dikwels jou ergste nagmerries en vrese deur na ʼn gruwelfilm te gaan kyk met die wete: jy is doodveilig in jou sagte fliekstoel. Jy mag dalk net bietjie springmielies op jou skoot mors.

The Invisible Man, wat buitengewoon goed by die plaaslike en Amerikaanse lokette gevaar het, sal jou tot die einde aan die raai hou. Dis vir mense wat gedink het daar sal nie weer ʼn fliek soos The Sixth Sense wees nie. Maar moenie wag vir Box Office of stroming nie. Jy moet hierdie grieselrigheid in volle stereofoniese klank in ʼn viermuurteater meemaak. En oorleef!

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.