Leon van Nierop se resensie: Seance

SEANCE     **  
Met Suki Waterhouse en Madisen Beaty
Regisseur: Simon Barrett

O ja, clichés is hier in groter oorvloed as Namakwalandse daisies in die lente in die Noord-Kaap. Maar soos iemand onlangs gekla het oor “oe, al die melodrama in sepies!” wil ʼn mens vertroostend sê: sekere genres het sekere reëls, en soos sepies soms uit melodramatiese geween bestaan, wemel grillers (dink aan Suspiria waarmee hierdie film ooreenkomste toon), van sy eie clichés.

Hier is enkeles: vloerplanke wat in spokerige vervalle huise (in dié geval ʼn skool) kraak, ʼn storttoneel met water wat die kamera bespuit, ʼn figuur wat vinnig agter die slagoffer in die skadu’s verbybeweeg, grieselmusiek op die regte skrikmaak-oomblik, ʼn mes wat ʼn keel oopkloof, kerse wat flikker en eensklaps uitdoof en ʼn monsteragtige skoolhoof. Ag, die lys is eindeloos.

ʼn Meisieskool word geruk wanneer een van die leerders, wat ʼn grap probeer maak het oor iemand se dood, deur die Edeline-spook geteister en uiteindelik vermoor word. En ja, jy het reg geraai, al die skooldogters, behalwe die heldin, word die een ná die ander uitgemoor. Grusaam, alhoewel hierdie geweld nie so blatant is dat jy jou bed op bakstene sal plaas om daarna ʼn oog op mekaar te kry nie. Die beperking is 16.

ʼn Geheimsinnige meisie, nogal onthutsend goed gespeel deur Suki Waterhouse, arriveer in die plek van die eerste meisie wat vermoor is – of was dit selfdood?! Julle ken die storie. Maar dan begin die nare meisies (hoekom is skooldogters altyd so naar met mekaar?) een ná die ander sterf. Is dit die spook? Is daar ʼn Halloween-monster wat alles beheer? Sal die vloerplank op die regte oomblik kraak? En daardie gekrap aan die halfoop deur… sal die skuldige se oog daardeur loer?

Seance gaan natuurlik oor ʼn groep meisies wat ʼn seance hou wat momentum aan al hierdie grusaamhede verskaf. Maar wie sit werklik hieragter? En hoekom het die skool omtrent net 10 meisie-leerders?

Nou weet jy wat om te verwag. Net aanbeveel as jy toevallig by die teater is en jou masker saamgebring het.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.