Leon van Nierop se resensie: The Last Letter from your Lover

Skermgreep uit die fliek

The Last Letter from your Lover  **
Met Shailene Woodley en Callum Turner
Regisseur: Augustine Frizzell

Ja, ou suurknol, hoor ek baie lesers weer mompel. Omdat dit op ʼn soetsappige Jojo Moyes-roman gegrond is (sy het onder andere ook Me Before You (2016) geskryf) en omdat alles beeldskoon tot die mag duisend en twee is en trane in stadige beweging oor swaar gegrimeerde wange biggel, kry dit net twee sterre.

Die antwoord is ʼn skaamtelose ja. Maar dit beteken nie jý sal nie daarvan hou nie. Hier is genoeg versiersuiker om vier bruidskoeke swaar te versier en genoeg melodrama om ʼn hele paar sepies te vul. Maar soms wil ʼn mens net na mooi mense staar wat in moeilike situasies beland waaruit hulle hulself nie gemaklik sal wikkel nie. En, ja, almal in die reeks is sjokoladedoos-en-poeierkwas beeldskoon. Veral die sjarmante stoutseun Callum Turner streel die retina en Felicity Jones is Aspoestertjie-mooi.

Dit gaan oor ʼn voortvarende joernalis (Felicity Jones) wat gedurende navorsing afkom op geheime liefdesbriewe wat twee verbode minnaars (Shailene Woodley en Callum Turner) aan mekaar geskryf het. Tussenin is daar ʼn dood, selfsugtige politici soos die kaartmannetjie gespeel deur Joe Alwyn wat net trou vir eie gewin en twee mense wat ideaal is vir mekaar, maar hul verhouding moet in die geheim geskied – tot ʼn tragedie toeslaan.

Ja, dis ʼn snesie-per-toneel-rolprent waarin ʼn mens die einde reeds daar doer op die horison nader gegalop sien kom, maar as ʼn Sondagmiddagfliek, wanneer jy nie wil dink nie en steeds die smaak van gebraaide aartappels in jou mond proe (mits beurtkrag dit toelaat!), is hierdie storie so lekker soos ʼn laataand-likeurtjie op die stoep onder ʼn volmaan. Dis bietjie vergesog en manipulerend, maar nommerpas as jy net wil wegbreek van die slegte nuus in vanoggend se koerante.

Maklik om te volg, dit laat die kyker raai en al hou suur resensente nie van al die oordrewe melodrama nie, kan dit ʼn middag lekker verkort.

Aanbeveel vir sepieverslaafdes op Netflix.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.