Leon van Nierop se resensie: Yesterday

Yesterday ***     7/10
Met Himesh Patel en Lily James
Regisseur: Danny Boyle

Kan jy glo die fliek kom uit dieselfde stal wat die skokkende maar koel treffer Trainspotting en sy vervolg gemaak het? Danny Boyle weet hoe om te vermaak, maar ook waar om sy visier te stel wanneer hy regie doen, en hierdie huldeblyk aan die Beatles se geniale musiek klits ʼn mens om vanaf die eerste suiwer kitaar-noot.

Jy sal jou logika hiervoor moet afskakel en dit as wetenskapfiksie aanvaar, anders sal die storie nie vir jou werk nie. Nadat die hele aardbol ʼn kortsluiting beleef, word alle herinneringe en bewyse van die Beatles se musiek gewis. ʼn Sukkelende musikant, Himesh Patel as Jack Malik, “komponeer” dan al hul treffers en word oornag ʼn sensasie. Maar hoe lank kan hy daarmee wegkom?

Die sterkste verkooppunt hier is natuurlik die Beatles se musiek. As jy ook skelm na hul treffers op LM-Radio in die sestigs moes luister (hul liedjies was op die SAUK -radiostasies verban), sal jy kort-kort bewoë raak as die herinneringe van Let it Be en Help! deur jou geheue spoel. Die storie is sjarmant en die musiek asemrowend treffend (van voor af!) mits jy jou oorgee aan die rolprent. Aanbeveel vir nostalgie-vrate.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.