Nicole Kidman maak geskiedenis, wys haar kroos

Keith Urban en sy dogters, Sunday Rose (wit rok) en langs haar is Faith Margaret. Nicole Kidman se susterskind, Sybella Hawley, staan aan haar linkerkant en haar suster, Antonia Kidman, aan haar regterkant. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Die Oscar-wenner Nicole Kidman het die naweek geskiedenis gemaak toe sy die eerste Australiër geword het wat met ʼn toekenning van die American Film Institute (AFI) vir haar lewenslange bydrae tot die vermaakbedryf vereer is.

Hoewel sy die vrou van die aand was, was alle oë Saterdagaand op haar en haar man van 18 jaar, die musikant Keith Urban, se kroos.

Die paartjie se dogters, Sunday Rose (15) en Faith Margaret (13), het vir die heel eerste keer by hulle bekende ouers op die rooi tapyt aangesluit.

Kidman het ook twee aangenome kinders, Isabella (31) en Connor (29), uit haar eerste huwelik met die akteur Tom Cruise. Hulle is glo van hulle ma vervreem weens hulle besluit om soos Cruise deel te wees van die Kerk van Sciëntologie.

Cruise en Kidman is in 1990 getroud nadat hulle op die stel van Days of Thunder ontmoet het. Die paartjie se paaie het in 2001 geskei.

Ander lede van Kidman se familie, insluitende haar suster, Antonia Kidman, en haar swaer en susterskind, het ook die AFI-geleentheid bygewoon.

Kidman, wat al vyf Oscar-benoemings en ses Golden Globe-toekennings ingeoes het, sou die AFI-toekenning op 10 Junie verlede jaar al ontvang het. Dit is egter vir ʼn onbepaalde tyd uitgestel weens die Hollywood- skrywerstaking.

Vorige wenners van dié gesogte eretoekenning, wat volgens die AFI as een van die “hoogste ere in Amerikaanse rolprente” bestempel word, sluit in Oscar-wenners Meryl Streep, Julie Andrews, Denzel Washington, Robert De Niro, Martin Scorsese en rolprentmaker Steven Spielberg.

Streep, wat onlangs teenoor Kidman in die trefferreeks Big Little Lies gespeel het, het die toekenning aan die Moulin Rouge-aktrise oorhandig.

“Jou lewe en jou CV daag alles uit wat ons weet oor hoeveel ure daar in die dag is en op hoeveel plekke ʼn vrou op een slag kan wees. Dit is moeilik om nie vir Nicole te beny nie, maar dit is ook onmoontlik om haar nie te bewonder nie,” het Streep gesê.

“Nic was nog altyd die vrygewigste mens – sy het haar huise vir my oopgemaak, sy het my soos ʼn deel van haar familie laat voel, sy was soos die suster wat ek nooit gehad het nie,” het aktrise Naomi Watts ook tydens die spoggeleentheid gesê.

Watts en Kidman is sedert 15-jarige ouderdom goeie vriende en het aan die begin van hulle loopbane tien jaar lank saam gewoon.

Die Australiese akteurs Russell Crowe, Hugh Jackman en Cate Blanchett het ook video-huldeblyke aan hul mede-Aussie gelewer.

Bronne: BBC, The Guardian, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miskruier ·

Regte kos Republikein, nie fabrieks vervaardigde produkte nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.