Nuwe SA fliek vat jou op ʼn reis deur die fases van die lewe

Blouwyn

Die nuwe Suid-Afrikaanse rolprent Blouwyn vertel ʼn storie van drie onverwante paartjies wie se paaie op ʼn unieke manier kruis.

Blouwyn is ʼn Afrikaanse romantiese komedie met Johnny Taute as regisseur. Liza du Toit en Renier Weideman vertolk die hoofrolle.

Nadat Du Toit se karakter, Sonja, se akteursdroom aan skerwe lê weens ʼn mislukte oudisie, besluit sy om te maak asof sy die nuwe pastoor op die klein Wes-Kaapse dorpie Philadelphia is. Daar kom sy ander paartjies teë en word die idee van liefde en intimiteit ondersoek.

Blouwyn is nie jou gewone romantiese komedie nie, dit neem jou op ʼn reis deur die fases van die lewe,” lui ʼn verklaring.

Nianell sing die temalied vir die fliek Blouwyn (Foto: Verskaf)

“Die fliek gebruik situasionele komedie om die spanning te verlig sodat die gehoor tussendeur kan asemskep. Die fliek waag dit om traumatiese littekens wat deur kanker en mishandeling gelaat is binne ʼn verhouding aan te raak, asook hoe dié littekens die werklikheid van die karakters vorm.”

Taute het ook ʼn aangrypende liedjie met dieselfde naam geskryf wat Nianell spesiaal vir die rolprent opgeneem het.

Blouwyn is op 7 Julie bekendgestel in ʼn aanlyn filmfees. Dié filmfees laat jou toe om vir drie weke toegang tot die rolprent te hê teen R28 per kaartjie. Die Blouwyn– aanlyn filmfees duur tot 26 Julie en kaartjies kan hier gekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.