Wen: ‘Stroomop’-inspirasietoer by Innibos

Die Afrikaanse avontuurfliek Stroomop begin vanjaar op Vrouedag, 9 Augustus, in fliekteaters landswyd draai.

Op Saterdag 30 Junie maak die bekende akteurspaar Ivan Botha en Donnalee Roberts, wat aan die stuur van dié lank verwagte rolprent staan, ʼn draai in Mbombela (Nelspruit) met hul Stroomop-inspirasietoer by die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees.

Dié geleentheid word vanjaar spesiaal aangebied vir al die vroulike feesgangers op die feesgronde en alle vroue word uitgenooi om die unieke volheid en uitdagings van vrouwees saam met die aanbieders te vier.

Stroomop handel oor vyf unieke vroue wat almal besig is om in hulle eie realiteite te verdrink. In ʼn desperate poging om genesing te vind bevind die vroue hulself op die Oranjerivier op voorgeskrewe avontuurterapie deur ʼn selfhelpgroep. Wat is die ergste wat kan gebeur?

Tydens die avontuur lei wrywing tussen die vroue, wat elkeen met hul eie verskuilde en selfsugtige redes op die reis gekom het, tot ʼn ongeluk. In ʼn spanningsvolle oomblik word die gids en die vroue van die roeiboot afgegooi en in die stroom rondgemaal. Die gids spoel weg en die vroue word aan hulself oorgelaat om te oorleef in die genadelose wildernis. Sal hulle heel aan die anderkant uitkom?

Die vyf vroue in die rolprent word vertolk deur Donnalee Roberts, Simoné Nortmann, Ilse Klink, Chanelle de Jager en Carla Classen. Armand Aucamp van Die Boekklub-faam speel die rol van Guy, die gids.

“Innibos is ʼn heerlike afskop-fees en ons droom is om alle Suid-Afrikaanse vroue te inspireer en saam met hulle die uitdagings en avonture van vrouwees te vier,” sê Roberts.

“Die inspirasie-aanbieding fokus op die oorhoofse temas van die fliek, naamlik: selfontdekking, vergifnis, aanvaarding en genesing. Dit het ten doel om vroue te inspireer om stroomop te swem, teen die wêreld se onrealistiese verwagtinge, en om die avontuur van vrouwees elke dag te vier.”

Die aanbieding beloof om ʼn betekenisvolle geleentheid te wees waartydens bekende persoonlikhede hul harte met vroue deel in intieme gesprekke en met bekoorlike sang.

Roberts sal as hoofspreker optree met hartstories wat vroue sal inspireer om anders na hulself en vrouwees te kyk. Simoné Nortmann is die gasspreker van die geleentheid en deel meer oor haar eie vrouwees. Die geleentheid word verder ingekleur deur twee vrouestemme wat tot die siel van elke vrou teenwoordig sal spreek: Lizandra Winter en Kate Rok.

Die span maak ook voorsiening vir iets sag op die oog met Botha, wat regisseur van die fliek is, wat as gasheer van die dag optree en saam ʼn glasie sjampanje op vroue klink.

Uitstallers, onder meer die Sarie-winkel en Roberts se “pop-up shop” met haar nuwe reeks, The Romantic Collective, wat haar eie ontwerpe en ingevoerde klerereeks insluit, sal ook deel van die dag vorm.

Daar sal ook ʼn uitstalling van die Stroomop-roman, geskryf deur Adeline Radloff, wees. Die bekendes sal na die tyd beskikbaar wees vir ʼn lekker saamkuier en ontmoet-en-groetsessie. Elke gas sal boonop ʼn waardevolle geskenkpakkie huis toe neem. Heerlike kolwyntjies en vonkelwyn sal geniet word.

Die aanbieding vind plaas by die Bateleur-landgoed in Mbombela (Nelspruit) om 11:00. Die koste per kaartjie beloop R152 per persoon en is aanlyn beskikbaar by Computicket.

WEN: Vier gelukkige lesers staan elkeen die kans om ʼn dubbelkaartjie te wen na die Stroomop-inspirasie-aanbieding by die Innibos Laeveld Nasionale Kuntefees op Saterdag 30 Junie om 11:00.

Wenners sal per e-pos in kennis gestel word. Hierdie kompetisie het om 10:00 op Maandag 25 Junie gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.