Botaniese fees ’n eerste vir kusstad

Foto ter illustrasie. (Foto: Analuisa Gamboa/Unsplash)

Plantentoesiaste kan solank hul tuinmaakstewels en -handskoene nader hark, daar is ’n opwindende botaniese fees wat binnekort vir die eerste keer in die kusstad Gqeberha (Port Elizabeth) gaan draai.

Marktfees Botanics vind vanjaar van 23 tot 25 September in die Tramways-gebou in dié kusstad plaas en beloof om plantliefhebbers met die mooiste en interessantste plante te bekoor.

Henri Viljoen, een van die organiseerders van die fees, is opgewonde om die begin van lente behoorlik te vier en dié feesvieringe met medeplantliefhebbers te deel.

“Ons het van die beste, kleinskaalse, unieke kwekers wat hul plante tydens die fees gaan uitstal,” het Viljoen aan Maroela Media gesê.

Die plante wat tydens die fees ten toon gestel gaan word, is sorgvuldig deur kwekers geplant en versorg.

Feesgangers kan uitsien na die kans om tussen ’n wye verskeidenheid van plante, onder andere orgideë, boslelies en karnivoriese plante, te wandel.

“Daar is selfs iemand wat in die dorre Karoo die mooiste viooltjies gekweek het, wat ook by die fees gaan uitstal!”

Viljoen, wat lank in die toerismebedryf werksaam was, moes tydens die Covid-19-pandemie na nuwe, groener weivelde begin soek. Dit is in die tyd dat hy opnuut sy passie vir plante ontdek het.

“Ek het die geleentheid gesien om iets te begin waarvoor ek voorheen nie werklik genoeg tyd gehad het nie,” vertel Viljoen.

“Dis toe dat ons die kwekery hier in Gqeberha begin het. Van daar af het ons net gegroei.”

Inwoners is reeds vertroud met die immergewilde Marktfees, ’n Kersmark wat jaarliks aangebied word.

Dié fees trek egter nou ’n splinternuwe, groen baadjie aan om die lentebloeisels te verwelkom en diegene met groenvingers te bekoor.

Viljoen en Jean de Villiers, mede-organiseerder van die botaniese fees, het verlede jaar deel van die Marktfees-bestuurspan geword. Daarmee saam het die idee vir ’n botaniese fees ontstaan en die droom word vandeesmaand uiteindelik ’n werklikheid.

Daar sal ook verskeie unieke, handgemaakte produkte by die fees uitgestal word. Dié produkte sal te koop wees en is elkeen met ’n botaniese tema aanmekaar geslaan.

Kaartjies kan by die deur aangeskaf word en die winste van die fees sal aan die Cleary Estate Cheshire Home, ’n tehuis vir volwassenes met gestremdhede, geskenk word.

“Dit is ons manier om aan die gemeenskap terug te gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.