Helpende Hand hou mark om entrepreneurs te help; stalletjies nou beskikbaar

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die welsynsorganisasie Helpende Hand beraam planne vir entrepreneurs om ’n uitdagende jaar op ’n hoë noot af te sluit.

Solidariteit Helpende Hand bied vanjaar vir die eerste keer sy Omgee-mark aan wat saam met die immergewilde Sakeliga KragDag gehou gaan word. KragDag bied jaarliks ’n uitstalgeleentheid vir energie- en ander selfstandigheidsoplossings. Die Omgee-mark en Kragdag vind vanjaar van 3 tot 5 Desember by die Diamantvallei Landgoed in die Cullinan-omgewing, oos van Pretoria, plaas. Nagenoeg 21 400 besoekers het verlede jaar KragDag besoek.

“Vanjaar was ’n uitdagende jaar en entrepreneurs wat by markte uitstal of hul handgemaakte items van die huis af verkoop, is erg hierdeur geraak,” sê Benette Welman, Helpende Hand se projekorganiseerder van die Omgee-mark. “Ons gee om vir hulle, daarom skep ons ’n platform waar hul handgemaakte of unieke produkte by een van die grootste energie- en selfstandigheidsekspo’s in Suid-Afrika uitgestal en verkoop kan word. Hierdie is ’n geleentheid vir elke entrepreneur of iemand in die tuisbedryf om ’n moeilike jaar op ’n hoogtepunt af te sluit en vir die publiek om Kersgeskenke te koop.”

Welman sê buiten KragDag se stalletjies, sal die Omgee-mark uit 150 verskillende soorte stalletjies bestaan.

“Hierdie is werklik ’n mark wat wys dat ’n gemeenskap omgee. Ons wil veral entrepreneurs wat uitdagings weens die inperking ervaar het, uitnooi om deel van hierdie mark te wees.”

Daar sal ook talle kosstalletjies en ’n gesellige ontspanningsarea onder die pekanneutbome wees en ’n verskeidenheid kreatiewe selfdoen-demonstrasies vir oud en jonk aangebied word.

Besoek www.omgeemark.co.za vir meer inligting en om as ’n uitstaller of besoeker te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.