Konsertgids: Manie Jackson, Petronel Baard dié naweek te sien

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Konsertgangers kan egter nou ook weer afsit na die naaste teater of konsert-venue vir vertonings deur hul gunstelingkunstenaars.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van konserte waarmee musiekliefhebbers kan ontspan.

Saterdag 24 Oktober

Musiek van die 17de eeu tot verwerkings van Lennon en McCartney asook klaviermusiek van Spanje en Brasilië in ʼn klassieke styl kry lewe in die vertoning Vivace Guitar Duo: Gerrit Roos en Jonathan Moolman.

Die duo speel op handgemaakte kitare deur Hans van den Berg.

Die konsert begin om 19:00 in die Pierneefteater en kos R100 per kaartjie. Bespreek by [email protected].

Sondag 25 Oktober

Manie Jackson sing Sondag om 14:00 sy gewildste treffers en ook ʼn paar nuwes in die Pierneefteater. Kaartjies kos R100 en kan bespreek word by [email protected].

Digkuns- en musiekliefhebbers kan op Sondag op Cordis Trust of Petronel Baard se Facebook-bladsye of op YouTube inskakel vir ʼn gratis virtuele vertoning.

Woordpalet is ʼn pragbundel van al die talentvolle skrywer Mardene Marais se skryfstukke saam met die kunswerke van onder andere Vader Claerhout.

Baard se Lang Vrou Produksies het hierdie aanbieding saamgestel in vyf afdelings om Marais se siening van “Liefde”, “Geluk”, “Vrees”, “Die Dagbreek” en laastens “Die Son” uit die boek.

Vir meer inligting oor die vertoning en trust, besoek www.cordistrust.co.za.

Afrikaans Gaan Global in Sun City word op 30 en 31 Oktober aangebied. Ná die ongelooflike sukses van die eerste Afrikaans Gaan Global-stroomkonsert wat in September aangebied is, word die tweede een oor ’n naweek in Sun City aangebied met organiseerders wat belowe dat dié konserte verdere verwagtinge sal oortref. Dié keer word aktiwiteite oor die hele naweek vanaf Sun City aangebied en musiekliefhebbers kan ook deel in die aksie met ’n beperkte aantal kaartjies wat beskikbaar is.

Die naweek skop amptelik op Vrydag 30 Oktober af met die gewilde rugby-kletsprogram Toks en Tjops, wat regstreeks op kykNET vanaf The Boma, Sun City, uitgesaai sal word. Na afloop van dié uitsending vind die eerste musiekgenot vanaf 21:00 plaas met Ricus Nel, Jo Black, Refentse, Brendan Peyper, Appel, Ray Dylan en Tasché in aksie tydens die Hardekole-konsert. Toegang vir dié vertoning is ook by die naweekpakket ingesluit en sluit ’n spesiale Boma Braai Buffet-ete in.

Die amptelike Afrikaans Gaan Global-konsert op Saterdag 31 Oktober spog met ’n indrukwekkende kunstenaarslys en daar kan uitgesien word na 27 kunstenaars wat die partytjie aan die gang gaan hou – weer vir 12 ure lank. Dié kunstenaars is Jo Black, Snotkop, Refentse, Spoegwolf, Adam Tas, Juanita du Plessis, Pieter Koen, Wicus van der Merwe, Demi Lee Moore, Joe F, Ricus Nel, Brendan Peyper, Nicholis Louw, Nádine, Elizma Theron, Tasché Burger, Appel, Elvis Blue, Kurt Darren, Die Campbells, Synth Peter, Jay du Plessis, Karen Zoid, Early B en Ray Dylan. Vanes-Mari du Toit sal saam met Pieter Koen en Wicus van der Merwe die aanbieders wees.

Vir inligting oor die pakket en pryse, besoek iTickets se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.