Christo Jankowitz wen vanjaar se Helgaard Steyn-prys

Christo Jankowitz. (Foto: Lucinda du Toit)

“Jy bou ʼn musikale argument. Die komponis skryf ʼn intrige amper nes ʼn skrywer een vir ʼn boek sou skryf.”

Só sê Christo Jankowitz, die komponis wat vroeër vandeesmaand met die Helgaard Steyn-prys vir musiekkomposisie vereer is. Hy het prysgeld van R675 000 saam met dié toekenning ontvang.

Die Helgaard Steyn-prys is ʼn toekenning wat al om die drie jaar toegeken word aan woordkunstenaars, visuele kunstenaars en komponiste en is een van die grootste private pryse vir die kunste in Suid-Afrika. Die toekennings word deur die Helgaard Steyn Trust gemaak.

Jankowitz se Strykkwartet no. 3 is vir die eerste keer in 2019 uitgevoer. Dit is vir dié stuk waarvoor hy vanjaar vereer is.

Die paneel beoordelaars, prof. Chris van Rhyn van die Noordwes-Universiteit, Lance Philip van die Universiteit van die Vrystaat en prof. Hendrik Hofmeyr van die Universiteit van Kaapstad, het Jankowitz se werk as “kompleks, saamgestel met vaardigheid en oortuiging” beskryf.

Hoewel dié stuk hom vandag breëbors laat staan, erken Jankowitz dat dit nie ʼn maklike taak was om dit te komponeer nie. Eensaamheid, dog bevrediging, is gevoelens wat by hom opduik wanneer hy aan die sewe maande dink wat dit hom geneem het om dit te skryf.

“Ek het nie baie vrye tyd gehad nie. Ek het myself daaraan gewy om soggens om 05:00 op te staan en vir twee uur te sit en skryf,” het die 45-jarige komponis van Pretoria aan Maroela Media vertel.

“Dit was nie altyd maklik nie. Party dae was daar idees, en ander nie.”

Alhoewel Jankowitz homself daaraan toegewy het om sy denke en idees in die komposisie neer te pen, is dit die probleemoplossing en logiese vloei van die melodie wat hom veral besig gehou het.

Dis amper soos wiskunde, verduidelik hy, die idees wat jy het moet georden word en sin maak vir die musikant wat dit op die ou end lewe gee. Dít is ook hoe Jankowitz dit beskryf het toe musikante dié stuk vir die eerste keer uitgevoer het.

Dit het lewend geword.

“Dis net jy, jou potlood en die stuk papier. Die stuk neem ʼn ander vorm aan wanneer dit gespeel word.”

Dit neem tyd om die vaardighede aan te leer om daartoe in staat te wees om ʼn logiese stuk musiek saam te stel, erken Jankowitz – die perfekte balans tussen kuns en logiese denke.

Jankowitz het in ʼn musikale omgewing grootgeword, met ʼn ma wat self ʼn kranige klavierspeler is en die televisie wat dikwels die jongste musiekvertoning deur die huis laat pols het.

Hy het nog altyd ʼn bewondering vir komponiste gehad, sê hy. Sy grootwordhelde was Bach en Mozart. Dit is juis weens dié verwondering dat hy sy hoërskoolloopbaan by die Nasionale Skool vir Kunste in Braamfontein, Johannesburg, voltooi het.

Hier en daar het hy gedurende sy skoolloopbaan reeds musiek gekomponeer, maar dít is ʼn vaardigheid wat eers op universiteitsvlak ernstig opgeneem is, vertel hy.

Sy skoolloopbaan het egter die grondslag gevorm vir die werk wat hy vandag doen.

Jankowitz het ʼn doktorsgraad in komposisie aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf. Hy het verdere postdoktorale navorsing by die Universiteit van Kaapstad gedoen voordat hy in 2018 by Unisa as seniorlektor aangestel is.

Luister hier na Christo Jankowitz se Strykkwartet no. 3:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.