Con Grazia-sustertrio geanker in familiebande, geloof

(Van links na regs) Marchelle, Sharon en Syntiche van die klassiekemusiek-ensemble, Con Grazia. (Foto: Santie Korf Photography)

Con Grazia, die klassiekemusiek-ensemble wat bestaan uit drie susters, Syntiche, Marchelle en Sharon, is diep geanker in familieverhoudings en ʼn liefde vir musiek wat oor drie generasies strek.

“Dit het by my ma, Priscilla, begin wat vir 38 jaar ʼn musiekonderwyseres was,” vertel Marchelle, die oudste van die drie susters.

Marchelle gee musiek by die American School of Johannesburg se Pretoria-kampus en sy speel viool en klavier. Syntiche, die middelste van die drie susters, speel ook viool en klavier, en sy gee tuisskool vir haar drie kinders. Jongsus Sharon behartig onder meer die groep se besprekings en bemarking, en sy speel verskeie blaasinstrumente, onder meer blokfluit, dwarsfluit en saksofoon.

“Ek was maar altyd bietjie van ʼn rebel en wou nie dieselfde instrumente as my sussies speel nie,” skerts Sharon.

Syntiche voeg laggend by dat sy nie met Sharon saamstem nie. “Ek en Marchelle dink natuurlik dat sy eintlik nie wou leer viool speel nie, want dan sou sy ook soos ons vakansies in die karavaan moes oefen voordat sy op die strand kon gaan speel. Maar vandag is dit goed, want Sharon bring ʼn ander klank na die groep met haar blaasinstrumente.”

Die Con Grazia-sustertrio maak van hulle kinderdae af saam musiek. (Foto: Verskaf)

Van hul vroegste herinneringe is toe hulle op ʼn jong ouderdom al saam musiekgemaak het, en in 1993 het hierdie gesamentlike liefde vir musiek tot die begin van Con Grazia gelei.

“Van jongs af het ons saam opgetree in kerke, ouetehuise, troues, teetuine en by skoolgeleenthede,” onthou Syntiche.

Sedertdien het die susters by al wat ʼn troue, korporatiewe funksie en spesiale geleentheid is, as soliste, duo of trio opgetree. Hulle is ook in 2017 met ʼn Ghoema-prys vir beste ligte klassieke Afrikaanse album vir Kosmos bekroon.

Hulle ma tree nou en dan nog steeds saam met hulle op. Sy is ʼn klavier- en trekklavier-speler, asook ʼn sangeres. Soos wat die susters se kroos ouer word, raak hulle net so behendig met instrumente soos tjello, dwarsfluit, klavier en kitaar.

“Dit is vir ons ʼn voorreg om as familie saam musiek te maak en dit tot eer van die Here te doen. Ons is dankbaar vir die talente wat hy vir ons gegee het,” voeg Marchelle by.

Hulle pa, Errol, was ʼn finansiële adviseur en hy is in die ouderdom van 47 aan breinkanker dood. Syntiche sê een ding wat sy van daardie tyd met haar pa se siekte onthou, is die rol wat musiek gespeel het en hoe hulle verhouding met God versterk is.

“Ná ʼn operasie het die dokters vir hom ses maande gegee om te leef, maar hy was gelukkig toe nog vier jaar saam met ons. Dit was geleende tyd vir ons gesin.

“My pa het toesprake en sy getuienis by kerke gaan lewer en musiek het vir ons ʼn veilige hawe geword waar ons berusting kon vind. Met die inkomste wat ons danksy Con Grazia se optredes verdien het, het ons ʼn geldelike bydrae tot die huis se instandhouding gemaak.”

Drie generasies sing saam (van links na regs): Marchelle, Syntiche, Sharon, Emileo, Ma Priscilla, Gabriella, Jean-Daniel. (Foto: Leon Myburgh Photography)

Priscilla het intussen weer getrou en volgens die jongste Sharon, is Chris Thornhill vir hulle soos ʼn tweede pa. “Ons is baie dankbaar dat my ma weer ʼn lewensmaat gevind het. Ons noem hom ook Pa Chris, want ons sien hom nie as ons stiefpa nie.”

Wanneer ʼn mens vir Marchelle, Syntiche en Sharon vra oor dit wat hulle die meeste daarvan geniet om saam musiek te maak, sê Marchelle dat dit vir hulle lekker is om met nuwe idees vorendag te kom.

“Ons hou daarvan om spesiale geleenthede op te kikker deur kreatiewe aspekte by ons musiek te voeg. Soos om ʼn wit klavier te gebruik saam met ʼn goue rok wat soos lopende goud lyk wanneer dit beweeg.”

Syntiche brei uit deur iets oor die groep se uitrustings te sê.

“Een van ons gunstelingdinge van optredes, is om volgens die kleurskema of tema van ʼn funksie aan te trek. As kinders het ons gereeld in my ma se kas ingevaar en in haar klere en tiekiehakskoene rondgespeel. Nou het ons ʼn spesiale kamer met ʼn verskeidenheid aandrokke en kostuums vir verskillende kreatiewe temas.”

Sy sê verder dit is wonderlik dat musiek hulle bymekaarbring. “As ons elkeen besig raak met ons eie lewens, is daar altyd ʼn optrede om die draai waar ons saam moet wees.”

Con Grazia is in 2017 met ʼn Ghoema-prys vir beste ligte klassieke Afrikaanse album vir ‘Kosmos’ bekroon.

Dit het hulle al wyd en syd geneem. Ook na die buiteland vir optredes in Dubai, Abu Dhabi, Frankryk, Holland, België en Seychelle.

Sharon meen sy geniet dit die meeste wanneer hulle saam pret ervaar; om saam te lag en te kuier terwyl hulle oefen. “Soms drink ons ʼn bietjie meer tee as om te oefen, maar als kom altyd bymekaar voor ʼn optrede.”

Só is musiek al vir die afgelope drie dekades ʼn band wat Marchelle, Syntiche en Sharon se susterskap saambind en vorm. Nie net is dit vir hulle ʼn toevlug nie, maar ook ʼn manier om hulle musiek met ander mense te deel en hulle daarmee op te beur.

“Ons hoop dat ons musiek mense se harte raak. Almal ontvang Godgegewe talente wat uitgeleef kan word. Ons sʼn is musiek,” sluit Sharon af.

  • Con Grazia tree Vrydag 28 Julie by Kersfees in Julie ten bate van die Louis Botha Kinderhuis op. Klik hier om meer oor die geleentheid te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.