Deon Meiring ‘groei, koester opregte skryfwerk’

Deon Meiring tydens opnames van ‘Karavaan Klankbaan’. (Foto: Nico Welgemoed/August Photography)

Sy werk as musikant, jeugpredikant en aanbieder van Maroela Media se liedjieskryfkursus, het Deon Meiring laat besef daar is ʼn toenemende behoefte onder jongmense om uiting aan “iets dieper” te gee.

“Ja, daar’s baie vervlakking in die wêreld, maar ons behoefte aan diepte sterf nie uit nie, al skram ons weg daarvan met verdowingsmiddels soos sosiale media,” vertel die sanger, wat tans saam met sy kunstenaarsvrou in Wellington in die Wes-Kaap woon, aan Maroela Media.

“Die oomblik wat mens as kunstenaar daardie spesifieke senuwee in mense aanraak, ontlok dit iets baie uniek, en dít is die krag van lirieke.”

Deon meen die opgang van plaaslike kunstenaars soos Almero beaam sy standpunt.

Hy het onlangs ʼn lied saam met Almero neergepen tydens die opname van Die Karavaan Klankbaan, ʼn musiekreeks wat nou op YouTube beskikbaar is.

Dié unieke reeks bestaan uit vyf episodes waar die musikante Karlien van Jaarsveld, Vir Nou Net Magé en Ruan Graaff saam met Almero en sy span in ʼn kampeerwa, Bessie, reis en al langs die see musiek skryf en opneem. In die vierde episode snoer Deon en Almero kragte saam om ʼn nuwe lied op ʼn plaas buite Durbanville te skryf.

Deon is al sowat twee dekades deel van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en skryf nie net vir homself nie, maar ook vir Afrikaanse rock- en folkgroepe soos Glaskas en Dans Dans Lisa.

Hy en Almero het mekaar leer ken deur Bouwer Bosch, saam met wie Deon die groep Dans Dans Lisa geskep het.

“Ek onthou ons was baie opgewonde dat daar so ʼn tipe liedjieskrywer sy opgang maak. Ek was gefassineerd dat hierdie ou met sy diepte kom en ʼn jonger generasie se probleme so goed kan gryp en vasvang,” vertel Deon.

Sedertdien het Almero en Bouwer ʼn bundel uitgebring, waartoe Deon ʼn bydrae gelewer het. Almero en Deon het ook al die verhoog gedeel en saam deur die Karoo in die Kaap getoer het vir wat hy laggend as ʼn “cowboytoer” beskryf.

Almero, Deon en vervaardiger Austin Hulme skryf saam aan ‘n lied tydens opnames van ‘Karavaan Klankbaan’. (Foto: Nico Welgemoed/August Photography)

Die Karavaan Klankbaan het my aan daardie einste toer herinner. Ek het nou ook nie geweet wat om te verwag nie, behalwe dat ons gaan kamp en ʼn liedjie gaan moet skryf, maar ek dink dit was doelbewus gewees. Ek is gelukkig oop vir sulke goed, en ek dink dit stimuleer kreatiwiteit.”

Die omliggende berge en nabye see was tydens die opname van Die Klankbaan Karavaan die wegspringblok vir hul lied “Hoogtes”.

“Ek het die laaste paar jaar herontdek hoe belangrik dit is om met die natuur in aanraking te kom, om ons menslikheid te herontdek. Soos die meeste van die mensdom kyk ek gedurig in ʼn skerm vas, hierdie natuurskoon, wat groter en ouer as ek is, het my tog herinner ek is wie ek regtig is.”

Deon sê hy is dikwels “versigtig” om liedjies saam met te ander skryf, juis omdat dit volgens hom moeilik is om twee kunstenaars se visies bymekaar te bring.

“Ek het geskryf tot op ʼn punt, en daar waar ek onseker was oor wat volgende moet wees, het Almero soomloos ingeval. Dit was lekker om te sien hoe ons mekaar kan aanmoedig as die een vashaak.”

Musiekbedryf ‘in goeie hande’

Liedjies vloei al sedert sy skooldae uit sy pen. Volgens Deon was sy deurlopende doelwit om opregte en eerlike musiek met die wêreld te deel, ongeag die jongste tendense.

“Ek sou nie sê dit was topgehalte-poësie nie, maar ek het destyds met Glaskas gevoel dat dieper lirieke nie noodwendig die tipe liedjies was wat aanklank by mense vind nie.

“Ek het steeds net aanhou skryf wat vir my sinvol was, en vandag is dit immers van ons groep se oudste treffers wat die meeste by vertonings aangevra word.”

Die plaaslike én internasionale sukses van kunstenaars soos Spoegwolf het volgens Deon ʼn keerpunt in dié verband veroorsaak. Hy het pas teruggekeer van ʼn twee weke lange toer in Australië en Nieu-Seeland saam met die groep.

‘n Groep aspirant-liedjieskrywers het onder leiding van Deon Meiring (heel voor) en Jako Meyer (links voor) aan die liedjieskryf kursus by Maroela Media deelgeneem. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Ek is dalk eensydig, maar ek sien hoe mense reageer op Danie-hulle se poëtiese skryfstyl, wat nie altyd voor die hand liggend is nie. Die boodskap vir my is dat as jy iets van gehalte skep wat opreg is, waarin jou vakmanskap goed is, dit tog iewers met iemand sal resoneer.”

Daarom is hy meer optimisties as ooit oor die gehalte kunstenaars wat die Afrikaanse bedryf nou oplewer.

“Ons sien selfs met wonderlike kunstenaars soos Riaan Benadé, wat mens dalk as ʼn meer ‘tradisionele kommersiële’ Afrikaanse kunstenaar kan bestempel, dat jy nie oppervlakkig hoef te wees om lekker, goeie gehalte musiek te maak nie.”

Met sy werk as predikant probeer hy jongmense ook aanmoedig om uiting te gee aan wie hulle werklik is.

“Ek dink baie die laaste ruk oor die konsep van jou hart volg. Ek onthou dat ek destyds bang en selfs skaam was om liedjies te skryf, want ek het nie gedink dit gaan betekenisvol wees vir ander nie. As ek geskryf het, was dit egter wanneer ek die naaste aan myself gevoel het en snaaks genoeg naaste aan ander gekom het.”

“Jong Deon sou dalk eerder sy talent vir rugby wou ontwikkel, maar ek besef nou meer as ooit dat dit ʼn gawe is om te skryf en ek probeer om dit te koester, maar daagliks ook daarin te groei.”

  • Kyk hier na die vierde episode van Die Karavaan Klankbaan:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.