Luister: Magé skryf klankbaan vir eie lewenspad

Magé Troskie. (Foto: Verskaf)

In Februarie 2021 het Magé Troskie as hoofmeisie aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein om al die regte redes aandag getrek op sosiale media met ʼn inspirerende boodskap aan die nuwe gr. 8-leerders van die skool wat destyds soos ʼn veldbrand versprei het.

In dié toespraak wat gelewer is tydens ʼn nuwelingsgeleentheid het Magé die jong skoliere bemoedig deur te sê: “Lig jou ken, en ken jou lig”.

Deesdae is Magé (20), of Vir Nou Net Magé soos sy bekend staan, ʼn musikant en ontluikende fliekmaker, wat onlangs ʼn kursus in musiekopleiding voltooi het en tans aan die AFDA-rolprentskool in Kaapstad studeer.

Sy vertel in Maroela Media se ateljee sy het nog altyd gekies om haar gesig na die lig te draai, al het sy êrens in haar skryfproses geleer dat luisteraars ook aanklank vind my musiek met ʼn donkerder kant.

Magé voel tuis op die verhoog. (Foto: Verskaf)

“Ek het grapperige liedjies geskryf, soos Robbie Wessels-tunes, net om lag te bring, want lag bring lig. Ek het, soos ek ouer geword het en die lewe meer begin gebeur het, oor donkerder tye ook begin skryf, en toe kom ek agter dit resoneer met ander mense ook.

“Ek is besig om my pad te vind. Nie te vind nie, te stap, te dans, en ek skryf die musiek waarop ek dans,” sê Magé.

Magé het as kunstenaar reeds ʼn paar enkelsnitte op digitale platforms uitgereik, onder meer snitte soos “Tent in my tuin”, “Sy’s leeg”, “Reënboog” en “Vlugteling”.

Haar liedjie “Voëltjie” is ook onlangs saam met die kunstenaar Almero en vervaardiger Austin Hulme heropgeneem tydens die opname van Die Karavaan Klankbaan, ʼn musiekreeks wat nou op YouTube beskikbaar is.

Die reeks bestaan uit vyf episodes waar musikante Karlien van Jaarsveld, Magé, Deon Meiring en Ruan Graaff saam met Almero en sy span reis in ʼn kampeerwa, Bessie, en al langs die see musiek skryf en opneem.

Die reeks word weekliks een vir een op YouTube uitgereik, met Karlien van Jaarsveld se episode wat ook reeds beskikbaar is.

Magé saam met onder meer Karlien van Jaarsveld, Almero en Pietie Beyers tydens die bekendstelling van ‘Die Karavaan Klankbaan’ in Johannesburg. (Foto: August Photography)

“Ek was so opgewonde toe ek Almero se boodskap kry. Ek kyk baie op na hom as kunstenaar in die bedryf, en toe hy my vra om deel te wees van die projek kon ek nie nee sê nie. Hulle het my kom haal in die kampeerwa, en ek kan net dink wat my pa gedink het toe hulle daar voor die huis stil hou,” vertel Magé laggend.

“Toe ek vir my pa, ʼn boer, vertel ons gaan ʼn liedjie maak in ʼn kampeerwa, wou hy weet wat wil die mannetjie nou eintlik hê!”

Hulle het langs die see in Gordonsbaai ʼn tent opgeslaan en die hele aand deur “Voëltjie” heropgeneem.

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring en ʼn opwindende projek om van deel te wees. Dit gee nogal ʼn ander kykie na die skeppingsproses.”

Magé is self nog nie seker waar sy haarself in die Suid-Afrikaanse musieklandskap sien nie, maar sê dit is vir haar belangrik om altyd skeppend en kreatief te bly.

“Ek het ʼn dieper wete dat alles oukei gaan wees en ten goede gaan meewerk, solank ek net myself kan wees.”

“Voëltjie” deur Vir Nou Net Magé en Die Karavaan Klankbaan is nou op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Magé Troskie.

Kyk hier na Die Karavaan Klankbaan se derde episode met Vir Nou Net Magé:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.