‘Die Oorwurms’ bied vars oudio-stories, musiek vir kleuters

Die Oorwurms, ʼn splinternuwe aanlyn platform vir kinders, bied unieke en oorspronklike oudio-storievertellings, liedjies en aktiwiteite wat daarop gemik is om vervelige ure in ʼn opvoedkundige ervaring vir kleuters te omskep.

Jani Greeff en Nelia Kennedy, twee Kaapse vriendinne en ook die ma’s van kleuters, vertel die platform is al geruime tyd in wording en nou het hulle besluit die tyd is ryp om tydens die algehele afsonderingstydperk Die Oorwurms bekend te stel.

Die saadjie is geplant toe Kennedy saam met haar man, die musikant en liriekskrywer Hunter Kennedy, in die motor gery het en nie Afrikaanse stories soos die Storieman-reeks van ouds kon opspoor vir hul dogtertjie, Maria, om na te luister nie.

Die konsep vir Die Oorwurms het gestalte gekry op ʼn naweek weg in die berge in Grabouw. “Ons het oor name en idees gesels en die oudio-storielyne daardie naweek uitgelê. Toe die staat van inperking begin het ons gedink hoe rasend mense met klein kinders by die huis moet wees en ons het die projek binne ʼn week van stapel gestuur,” vertel Greeff, vrou van Pierre Greeff, voorsanger van Die Heuwels Fantasties.

Nelia Kennedy en Jani Greeff. (Foto: Verskaf)

Greeff is verantwoordelik vir die skryf van die stories, die lirieke en die musiek vir die liedjies. Kennedy, wat insette lewer in dié aspekte van die platform, is verantwoordelik vir die konseptualisering en ontwerp van die webwerf.

Sodra Greeff ʼn liedjie geskryf het, stuur sy dit na die musikant en vervaardiger Johnny de Ridder, meestal bekend as kitaarspeler vir Fokofpolisiekar.

“Johnny rond alles af en maak dit perfek. As pa van twee seuns is hy ingestel op dít waarvan kinders hou. Hy skaaf daaraan totdat dit uiters professioneel klink en vervaardig al die agtergrondmusiek en byklanke self. Ons kan nie almal saam in ʼn ateljee wees nie, hoewel ons net sowat vier kilometer uit mekaar woon,” sê Greeff.

“Dit wys ons dat dit moontlik is om in hierdie nuwe normaal waaraan ons gewoond moet raak, steeds saam te kan werk.”

Die eerste aflewering van Die Oorwurms se oorspronklike oudio-stories vertel die verhaal van Willem, ʼn vaal wurmpie wat ook kleurvol soos sy maats wil wees en later ontdek hy is ʼn gloeiwurm. Kennedy sê hulle het doelbewus algemene temas soos byvoorbeeld tandeborsel vermy.

“Ons wou eerder stories met mooi boodskappe skryf met onderwerpe soos inklusiwiteit. Kinders se emosionele ontwikkeling begin baie vroeg en ons wou stories skryf wat positief ervaar word deur kinders én hul ouers.”

Elke storie bevat ʼn bypassende liedjie, feite en aktiwiteite soos inkleur en luisteroefeninge. Greeff voeg by dat hulle komplimente ontvang oor die ontwerp van die platform.

“Dit is speels, kleurvol en eenvoudig. Ons is dankbaar dat ons steeds tydens hierdie nagmerrie van ʼn pandemie die wonderlike geleentheid het om te kan skep en kreatief te wees en ons passie uit te leef. Ons grootste bekommernis is wat die kinders van ons stories dink, en as hulle daarvan hou, is dit ons betaling.”

Sy vertel haar tweejarige seuntjie, Thys, geniet dit terdeë wanneer sy die kitaar nader sleep om ʼn liedjie te skryf. “As hy begin ronddans, dan weet ek ek is op die regte spoor!” sê sy.

“Ons het albei wonderlike herinneringe van toe ons stories geluister het as kinders en dit is waarom ons besluit het om dit te doen. Ons wou vir kleuters ʼn platform skep om te ontdek en omdat ons albei in hierdie wêreld vol musiek leef, was dit vir ons so ʼn logiese keuse en ons wou vir ouers ʼn Afrikaanse opsie bied.”

Nelia se oulike Bennie Boekwurm-skepping uit avokado. (Foto: Maria’s Munch/Instagram)

Kennedy is ook die meesterbrein agter die Instagram-bladsy Maria’s Munch. Op dié blad deel sy foto’s van oulike kosidees vir kinders wat onstaan het toe sy, in ʼn poging om haar dogtertjie se aptyt aan te wakker, kossoorte soos brood, avokado en salm in vorms begin sny het.

“Toe Maria moes begin vaste kos eet, wou sy niks weet van pampoen en ander fyngedrukte groente en puree nie. My suster, ʼn dieetkundige, het my vertel van ʼn metode genaamd ‘baby-led weaning’, waar kinders normale kos eet, net in baie kleiner stukkies gesny. Ek het toe begin om haar visueel te vermaak met die kos deur karakters en prentjies daarmee te vorm.”

Kennedy sê haar plan het soos ʼn bom gewerk. “Dit is ongelooflik hoe dit haar denkwyse oor kos verander het.”

Nelia se voorstelling van Snoopy en Woodstock uit onder meer brood met smeerkaas en cheddarkaas. (Foto: Maria’s Munch/Instagram)

Die Afrikaanse DStv-kanaal VIA het Kennedy onlangs genader om tydens die afsonderingstydperk elke dag ʼn verskillende bord te skep. “Voorheen het ek dit maar min gedoen, want ek het voltyds gewerk. Noudat ek tuis is doen ek dit weer gereeld. My benadering is nou heeltemal anders, want hoewel ek haar steeds van karakters wil leer, wil ek ook kyk hoe ek myself kreatief kan druk. Dit hou dit interessant.”

Sy vertel laggend Maria (nou vyf) wil elke aand weer kyk na die foto’s van haar kos. “Dan lewer sy insette oor waarvan sy gehou het en waarvan nie. Dis baie insiggewend!”

Besoek Die Oorwurms se webwerf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.