Gospel-album met vars, nuwe klank

Francois de Beer (Foto: Verskaf)

Die gospel-sanger Francois de Beer het vanjaar sy debuut, Daar is Krag, uitgereik en bring met dié album ʼn vars Afrikaanse gospel-klank.

“Die album is anders as ander gospel-albums daar buite. Ons is gemaak om kreatief en anders te kan wees.”

Só het De Beer in ʼn onderhoud aan Maroela Media vertel. “Ek wou die vars klanke van sekulêre musiek wat ons op die radio hoor by gospel-musiek inkorporeer.”

Die liedjies in die album het sowat ʼn jaar gelede uit De Beer se pen begin vloei toe die Here dit op sy hart gelê het om ʼn vollengte album op te neem. Dié jong gospel-sanger is ook heeltyds in die bediening as pastoor en musiekleier by die AGS Deo Prisma-gemeente in Montana in die noorde van Pretoria.

Vir hom vergelyk sy liedjies met preke wat ʼn positiewe boodskap by luisteraars laat. “Met dié album wil ek steeds God bedien en ʼn verskil in mense se lewens maak. Ek wil mense se oë op Hom rig. Hulle moet God se stem en teenwoordigheid ervaar met elke liedjie in die album,” sê De Beer.

De Beer vertel die boodskap van oorwinning en krag in Jesus se Naam is tema wat soos ʼn goue draad deur die album loop. “Ons is oorwinnaars deur Jesus se opstandingskrag wat Hy vir ons gee. Ons kan ʼn lewe van oorwinning leef, want Jesus het klaar aan die kruis vir ons gesterf,” sê hy.

De Beer gaan by geleentheid eers sy predikantskoene uitskop en na kerke deur die land toer met sy nuwe album en om die positiewe boodskap van oorwinning te verkondig. Hy beplan om volgende jaar drie optredes in kerke reg oor Australië te doen.

Daar is Krag is op alle digitale platforms beskikbaar. Vir meer inligting oor Francois de Beer besoek sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.