Kyk: Gehoor tree in toe sanger Tourette-simptome ervaar

Lewis Capaldi. (Foto: Facebook)

Aanhangers van die bekende Skotse sanger, Lewis Capaldi, het gedurende ʼn onlangse konsert in Duitsland ingespring en die koorgedeelte van sy nommer 1-treffer, “Someone you loved”, hardop klaar gesing toe die sanger simptome van Tourette-sindroom op die verhoog ervaar het.

Daar kan in ‘n video, wat deur ʼn konsertganger op TikTok geplaas is, gesien word hoe Lewis pouses tussen liedjies neem om sy spiersametrekkings te probeer beheer.

Die sanger het gedurende die koorgedeelte van “Someone you loved” vir ‘n oomblik van die mikrofoon af weggedraai, en dit is toe dat die skare besluit het om namens hom dit hardop klaar te sing.

Dié 26-jarige, wat veral bekend is vir sy trefferlied, “Before You Go”, het sy diagnose in 2022 via Instagram aangekondig.

Tourette-sindroom is ‘n oorerflike neurologiese versteuring wat veroorsaak dat mense onwillekeurige gesigtrekkings, spiersametrekkings of geluide maak, byvoorbeeld om gedurig te hoes of hul keel skoon te maak. Dit kom meer by mans as vroue voor, en kan in enkele gevalle na Koprolalie (onbeheerste gebruik van kru taal) lei.

“Die ergste daarvan is wanneer ek opgewonde is, kry ek dit; as ek gespanne is, kry ek dit; as ek gelukkig is, kry ek dit. Dit gebeur die heeltyd. Party dae is dit pynliker as ander … dit lyk baie erger as wat dit is,” het die sanger destyds op Instagram oor sy diagnose gesê.

Ander bekendes soos die 20-jarige Grammy-wenner, Billie Eilish, die sokkerheld David Beckham en die komediant en akteur Seth Rogan is ook met dié sindroom gediagnoseer.

Billie het in 2022 gedurende ʼn onderhoud met die televisiepersoonlikheid David Letterman verduidelik dat sy reeds op 11-jarige ouderdom gediagnoseer is en graag met mense daaroor gesels. “ʼn Mens kom dit nie dadelik agter nie, maar as jy my lank genoeg verfilm gaan jy beslis ʼn paar onwillekeurige bewegings sien. Ek kry nie skaam nie, ek hou daarvan om mense in te lig en meer daaroor te leer.”

Bronne: People, Today, YouTube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.