Laeveld-boere maak ‘musiek met diepte’

Hannes Eloff en Roelf Fritz, oftewel Zondagkraal. (Foto: verskaf)

Vir Hannes Eloff en Roelf Fritz, oftewel Zondagkraal, is musiek nie net ʼn lewensaar nie, maar ʼn emosionele uitlaatklep wat die samelewing broodnodig het.

Dié twee vriende maak al lank musiek, hoewel hulle nou eers, in die dertig- en veertigerjare van hul lewens, uiteindelik besluit het om hul passie met ander te deel.

Sedert hulle in Desember verlede jaar besluit het om hul liefde vir musiek in ʼn paar treffers om te skakel, het hulle reeds ʼn hele paar liedjies uitgereik. Dié liedjies sluit “Blom”, “Tyd” en “Jasmyn” in.

Hul jongste enkelsnit, “Brandweerwag”, vertel hulle aan Maroela Media, gaan oor ʼn egskeiding, ʼn lewensveranderende en hartverskeurende besluit wat gemaak moet word om ʼn gesin uitmekaar te ruk. Alhoewel dit ʼn moeilike tema is om aan te spreek, sê Hannes en Roelf dat dit juis nodig is om musiek te maak oor die dinge in die lewe wat soveel mense se lewens raak.

“‘Brandweerwag’ is ʼn sinoniem vir die wat die pyn in jou hart kan blus. Ons het almal grootgeword met musiek, dit is kuns wat soveel emosies vasvang,” sê 38-jarige Roelf.

“Dit is dalk ʼn moeilike tema, maar daar is soveel mense wat deur egskeidings gaan. Mense hou baie goed binne, en musiek is ʼn manier om daaroor te praat. As jy saamsing, gee jy uiting aan al daardie emosies – wat ʼn goeie ding is en ons moet musiek meer daarvoor gebruik.”

Uitdagende onderwerpe, ʼn behoefte om hoop te deel en ʼn liefde vir stories vertel is juis waarom Hannes en Roelf uiteindelik besluit het om musiek te begin maak.

“Dit is nie asof ons spring chickens is nie, maar musiek was nog altyd ʼn groot deel van ons lewens. Dinge is tans so deurmekaar in die wêreld en met die musiek wat ons maak, probeer ons altyd stories vertel en bietjie hoop skep,” sê 45-jarige Hannes.

“Ons musiek is lig, maar die boodskap hou ʼn diep betekenis in. Alles saam behoort jou weer bietjie hoop te gee aan die einde van die dag. Dit is tog waaroor musiek gaan.”

Luister na “Brandweerwag” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cecile ·

Dit is baie mooi, iets wat mens na kan luister.
Het na hulle gaan luister op YouTube en dit is ongelooflike mooi musiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.