Ligjare – Jannie du Toit

Jannie du Toit - LigjareLuister onderaan die resensie na ‘n paar snitte op die album.

Dit is nou al elf jaar sedert Jannie du Toit sy laaste album, Leeuspruit, vrygestel het.

Intussen het  hy en Christa Steyn gereeld in verskeie lande oor die wêreld opgetree, maar in Junie verlede jaar is Christa aan kanker oorlede. Jannie het ook weer sy platemaatskappy, JNS Musiek, aan die gang gekry, en dit klink asof hy groot planne het om nie net van die vorige vrystellings opnuut uit te reik nie, maar ook om nuwe musiek van hoogstaande gehalte vry te stel.

Die eerste vrystelling is sy nuwe album, Ligjare, wat hy ter nagedagtenis aan Christa, saam met wie hy 25 jaar lank gewerk het, opdra. Jannie het egter nie net sy eie komposisies op die album ingesluit nie. Die eerste twee snitte is huldeblyke aan nog twee groot geeste van Afrikaanse musiek wat reeds oorlede is. Louis van Rensburg het hoofsaaklik bekendheid verwerf vir die musiek van televisiereekse soos Ballade vir ‘n enkeling, Arende en 7de Laan, maar hy het ‘n veel groter bydrae as dit tot Afrikaanse musiek gelewer. Een van sy vroeë treffers, wat die legendariese radio-omroeper Fanus Rautenbach saam met hom geskryf het, is Jy naby jy, en Jannie het dit op hierdie album ingesluit. Jannie en Louis het mekaar meer as dertig jaar lank geken, en hulle het lank saam opgetree.  Nog een van Jannie se musiekvriende, wat twee jaar gelede oorlede is, is Lucas Maree. Jannie is die peetpa van Lucas se drie dogters, en die oudste een, Monica, sing Lucas se komposisie Nog een koppie koffie saam met hom. Marie Tredoux is ‘n liedjieskrywer van Jacobsbaai aan die Kaapse Weskus wat nie ‘n musiekinstrument kan bespeel nie, en, soos Jannie sê, sommer net haar liedjies “maak.” Jannie het haar komposisie Jacobsbaai se aandlied in 1990 op sy album Palet opgeneem, en die titelsnit van haar album Optelgoed, wat in 1988 vrygestel is, vir hierdie album opgeneem.

Jannie sing egter nie net in Afrikaans op die album nie. Hy beskou die blinde Nederlandse liedjieskrywer Jules de Corte as sy groot held, en het al heelwat van sy liedjies op die verhoog ingesluit. Hy het Seizoenen vir hierdie album opgeneem, en dis goed dat hy nie die woorde in Afrikaans vertaal het nie. Dis moeilik om te glo dat Skilder, wat hy in 2005 geskryf het, die eerste snit op die album is wat hy self geskryf het. Ruïne is egter ‘n komposisie van die Vlaamse komponis Han Koorneef waarvoor hy die Afrikaanse woorde geskryf het. Eensaamheid is ‘n pragtige komposisie van Engemi Ferreira wat Jannie hoofsaaklik a capella sing.  Min mense sal bewus wees van die feit dat Koos du Plessis tekste geskryf het wat hy nooit getoonset het nie. Jannie, Christa, Christa se seun Douw en Anna Davel het in 2008 ‘n program van Koos se musiek, Dagboek van ‘n swerwer, aangebied, en Anna het hierdie teks getoonset. Jannie het die hoofrol in die musiekblyspel Houtkruis gespeel, en hy en Christa het Seënbede saam daarvoor geskryf. Hartsnaar was ‘n program wat Jannie en Christa in 2008 aangebied het, en hy het die woorde van die titelliedjie geskryf om jong talentvolle kunstenaars te motiveer om musiek hul loopbaan te maak.

Ek het jou liefgehad is nog ‘n snit wat Christa gekomponeer het, en Jannie het die woorde saam met ‘n jarelange vriend, Pieter Stoffberg, geskryf. Dit het gekom van Pieter se musieblyspel Die laaste reis van Geerhardt van der Lende wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afgespeel het. Jannie sing ook in Frans op die album; die volgende twee snitte is deur die bekende Belgiese sanger en liedjieskrywer Jacques Brel geskryf. In Il neige sur Liège sing hy van die sneeu in Luik, en in La valse a mille temps van die Franse hoofstad Parys wat die maatslag hou, en ‘n mens jolig laat wals. Gisela de Villiers het in die 1990’s een album vrygestel, en het eerder bekendheid verwerf vir Voel jy soms of die Here te ver is, wat in die Liedboek van die Kerk ingesluit is. Gisela het die komposisie-afdeling van die ATKV se Crescendo-kompetisie met Die ego van jou oë gewen, en Jannie het dit vir hierdie album opgeneem. Jannie het al op vorige albums toonsettings van Afrikaanse gedigte van onder meer A.G. Visser en C. Louis Leipoldt ingesluit, en Kind ek het verband op jou is deur N.P. van Wyk Louw geskryf en deur Neil van der Watt getoonset. Die laaste twee snitte word as bonussnitte aangedui.  Na sy dood is ‘n komposisie van  die Nederlandse komponis Robert Ling, waarvoor Jannie die Afrikaanse woorde geskryf het. Die laaste snit is Andrew Lloyd Webber se Pie Jesu, wat hy saam met Coenie de Villiers en Chris Chameleon sing.

Daar is deesdae so min Afrikaanse kunstenaars op die musiektoneel met onberispelike integriteit, nie net as kunstenaars nie maar ook as mense. Om eerlik te wees; sommige van hulle is die marionette van hul platebase terwyl ander net sing om geld te verdien. Jannie maak hom nie aan hierdie twee wanpraktyke skuldig nie. Daar is geen twyfel dat musiek vir hom ‘n saak van groot erns is nie, en selfs al het hy min van sy eie komposisies op hierdie album ingesluit, word hy geïnspireer deur kunstenaars vir wie musiek baie belangriker as roem of rykdom is. Enigiemand wat op soek is na musiek met meer om die lyf as “bokkie”, “sokkie” en “rokkie”, moet SOMMER NOU hierdie album by hul versamelings voeg!

[soundcloud url=”http://api.soundcloud.com/tracks/113488306″ params=”” width=” 100%” height=”166″ iframe=”true” /]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.