Luister: Angel verleen rasperstem aan nuwe snit wat hoop skep

Angel de Lange. (Foto: Facebook/Angel de Lange)

Die rasperstem sangeres Angel de Lange verklap dat sy nog altyd ‘n diep stem gehad het, maar dit was eers toe sy nodules op haar stembande ontwikkel het wat sy die rasperklank ontwikkel het.

“Mense het altyd gesê ek klink soos Juanita du Plessis of Andriëtte, en al wat ek wou hê is my eie stem,” vertel Angel in Maroela Media se ateljee.

Sy het vir agt maande in Qatar gesing voordat sy begin sukkel het met nodules. “Dit was nie gevaarlik tot die mate dat ek dit moes verwyder nie, en ek het besluit om dit tot my voordeel te laat werk,” het Angel gesê.

Daarom het sy onlangs besluit om tog maar ‘n Bonnie Tyler-huldeblykkonsert te lewer, aangesien sy so gereeld hoor dat sy soos dié ikoniese Amerikaanse sangeres met die rasperstem klink. Bonnie is bekend vir treffers soos “Holding out for a hero” en “Total eclipse of the heart”.

“Dit was ‘n groot oomblik in my lewe toe ek vir Bonnie Tyler ontmoet het ook. Ná ‘n lang tyd se gewik- en weeg het ek uiteindelik besluit om die konsert te doen.”

Angel het onlangs die klankgolwe getref met ‘n nuwe Afrikaanse liedjie getiteld “Ek sal my vingers af baklei”. Die enkelsnit is uit die bekroonde liedjieskrywer Rudi Claase se pen.

Angel op die verhoog. (Foto: Angel de Lange/Facebook)

“Ek het die liedjie gesien as ‘n come back vir myself en ‘n manier om vir myself te baklei. Jy hoef nie in ‘n verhouding te wees om liefde te saai nie. Dit is belangrik om vir jouself lief te wees.”

Dit is ook die boodskap van dié popliedjie, vertel Angel. “Toe ek deur ‘n baie ernstige tyd gegaan het, het ek moed verloor. Daar was egter altyd iets wat my opgebeur het.

“Ons almal is al deur moeilike tye en dis net iets binne jou wat jou deurtrek. Jy dink jy kan nie deur iets kom nie, en later kyk jy terug en dink: ‘Ek het dit gemaak’.”

Rudi het ook een van Angel se vorige treffersnitte, “Ek huil oor jou”, geskryf. “Ek het hom op ‘n funksie raakgeloop en vir hom gesê die liedjie het my lewe verander. Hy het begin huil, en ons het vandaar pêlle geraak. Op ‘n stadium het ons ook net 2 km van mekaar af gebly.”

Met haar jongste enkelsnit wou sy ‘n boodskap bring wat hoop skep. “Die terugvoer wat ek kry is baie positief. Ek sien mense deel ook die liedjie op sosiale media waar hulle my dan wys wie dit is vir wie hulle baklei, hetsy hulle kinders of lewensmaats.”

Angel het haar binnekring by die skepping van die musiekvideo betrek. “My beste vriendin, my ouers en selfs my hondjie verskyn in die video, wat verskillende goed uitbeeld waarvoor mense veg. Ek wou hê die video moet weerloosheid uitbeeld.”

Angel de Lange Tells a Bonnie Tyler Story is op Vrydag 31 Maart by die Barnyard in Vereeniging op die planke. Kaartjies kos R120 en is beskikbaar by [email protected] of by 016 454 8388.

“Ek sal my vingers af baklei” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.