Luister: Bokradio se Wimpie vir internasionale countrymusiekprys benoem

Wimpie van der Sandt. (Foto: verskaf)

Nimmer as te nooit het Wimpie van der Sandt gedink dat ʼn reusemusiekkonsert tot ʼn benoeming by die Internasionale Country-musiektoekennings (CMA) sou lei nie.

Wimpie, aanbieder en uitvoerende hoof van Bok Radio 98.9fm, is benoem vir uitsonderlike bevordering van country-musiek buite die VSA. Hy ding teen deelnemers uit lande soos Australië, Swede, Duitsland en die Verenigde Koninkryk mee.

Dié benoeming is deel van CMA se internasionale been, en is geskoei op die internasionale bevordering van countrymusiek in lande buite die VSA.

“Ek was uit die veld geslaan. Ek het dit nie verwag of sien kom nie,” het Wimpie aan Maroela Media vertel.

Hierdie benoeming spruit uit Kip Moore se reusekonserte wat vroeër vanjaar in Pretoria en Kaapstad gehou is. Wimpie was die meesterbrein agter dié konserte, hoewel hy nie verwag het dat dit tot benoemings vir hom en Kip sou lei nie.

Kip is benoem vir ʼn uitsonderlike prestasie in countrymusiek buite die VSA.

“Ek weet dat Suid-Afrika ʼn groot rol speel in sy benoeming, en ek is baie bly en trots op hom daaroor,” sê Wimpie.

Kip het derduisende mense na die Jakaranda- en hoofstede gelok, soveel so, dat Wimpie glo dat die grootste internasionale country-musiekfees in die suidelike halfrond, gehou in Australië, onttroon is.

Kip Moore. (Foto: verskaf)

“Die Australiërs spog graag dat hulle die grootste country-musiekfees in die suidelike halfrond het met hul CMC Rocks. Hulle het verlede jaar oor drie dae in totaal 23 000 mense daar gehad,” sê Wimpie.

Wimpie sê die een vertoning wat hulle met Kip by Loftus gehou het, het meer gelok as wat die CMC Rocks bygewoon het.

Wimpie glo dat Suid-Afrikaners se liefde vir countrymusiek daaruit spruit dat radiostasies dit nie genoeg speel nie. Hy meen dat tientalle countrymusieksterre onder die Suid-Afrikaanse radar beweeg, juis omdat dit nie daagliks op die radio gehoor kan word nie.

Countrymusiek se aard van storievertel is ook wat mense lok, glo Wimpie.

“Dit is waar die ooreenkomste tussen country- en Afrikaanse musiek lê. Afrikaners hou van stories, ons hou daarvan om stories te vertel. En ʼn goeie countryliedjie vertel ʼn lekker storie.”

  • Vir meer inligting, besoek hierdie webwerf.
  • Luister boaan na ‘n volledige klankonderhoud met Wimpie van der Sandt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.