[Luister] Chris Chameleon: Fopdosser, vegter vir Afrikaans, boerseun

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

As die verkleurmannetjie – hoewel net sommige van dié spesie dit kan vermag – in soveel as 12 kleure kan verkleur, is dit nie maklik om sonder veel inspanning op ʼn dwaalspoor te beland en te vergeet wie jy wérklik is nie, stel ek my vraag aan Chris Chameleon.

Hy knik, glimlag skuins. Sy oë vertel hy weet presies waarheen ek dié gesprek stuur.

Ek praat verder: Dis nié bloot die kunstenaar se “van” wat sinspeel op dié diertjie en sy merkwaardige kleurveranderingskenmerk nie; om die waarheid te sê, ʼn vinnige blik oor sy lewe en loopbaan wys géén ander naam sou meer gepas gewees het nie.

Enkele van sý kleurveranderings duik moeiteloos op: Die fopdosser in die minirok, soos hy na homself verwys, die kampvegter vir Afrikaans en die gawe en liefdevolle dog hardkoppige en eiewyse boerseun.

Hy verbreek nie oogkontak nie, elke woord wat op my lippe vorm kry sy onverdeelde aandag.

“Hoe bly Chris eg aan homself,” kry die vraag gestalte.

Hy huiwer nie, gretig om te antwoord.

“Ek weet presies wie ek is, en dié mens word nie gegysel aan een spesifieke iets nie. Daar is baie fasette aan myself, elkeen wat op die oog af dalk wêrelde van mekaar verskil, maar in wese is ek wie ek nog áltyd was: Inhoudelik lief en gaaf. Ek is iemand wat nie oorgelewer is aan die swakhede wat hom mens maak nie – iemand wat sterk is, of altans probeer om nié swak te wees nie. Ek weet ook wie ek nié is nie: Ek glo nie aan selftwyfel of haat nie.

Chris Chameleon saam met Daniella Deysel (Foto: Facebook)

“Ek kan dit maklik vir jou verduidelik,” verduidelik hy oor sy cafè latte. “Ek het in 1998 ophou jok ná ʼn groot ding in my lewe gebeur het. Daarna het ek een keer weer gejok in 2005 toe ʼn joernalis my gevra het of ek my Ingrid Jonker-album gaan maak. Hoewel ek geen beplanning van enige aard gehad het nie, het ek ja gesê. Die nuus was oral in die media, ek móés die album maak. Maar ek jok nie, want ek weet presies wie ek is. As jy weet wie jy is, is witleuens nie nodig nie.”

ʼn Skuldgevoel spoel soos ʼn golf oor my. Hier sit ek: Die leuenaar wat onbloot voel deur dié stelling. Dit was maar ʼn paar minute gelede dat ek die veiligheidswag belowe het om nié langer as 20 minute in die Cresta-sentrum in Randburg te vertoef nie terwyl ek goed weet dat dit nié moontlik is nie. Ek huiwer ʼn stonde, maar bely nie mý sonde nie.

Ons praat verder. Vir ʼn verkleurmannetjie is hy eenvoudig geklee. Sy blou knopieshemp omhels sy skraal lyf op ʼn stylvolle manier. Sy hare is skuins gekam en om sy nek hang ʼn hangertjie met ʼn kristal. Dié hangertjie het sy “beminde” vir hom gekies – só verwys hy liefdevol na Daniella Deysel, sy vriendin vir die afgelope ses jaar.

Hy beduie met sy oë wanneer hy oor die sentrum praat. Net langer as drie dekades gelede het hy saam met sy ma en suster in ’n woonstelletjie net anderkant die sentrum gewoon. Hy het sy pa nooit geken nie, en dit het meer dikwels as nié finansieel nie goed gegaan nie.

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

“Maar ʼn goeie opvoeding, onderrig én omgewing was vir haar belangrik, daarom wou sy ons in ʼn gegoede area laat skoolgaan en woon,” keer hy selfs vóór ek kon reageer. Hy glimlag, byna asof hy aan spesiale oomblikke dink, maar huiwer om té veel te vertel. “Dit was ʼn lang pad om te stap tot hier waar ek vandag is. My selfbeeld was destyds nie onaangeraak deur ʼn tekort aan geld nie. Eintlik my lewe in geheel. Maar deur alles het ek nooit té ver gedwaal nie. Ek was nooit nié in beheer nie.”

Hy verwys na die tyd ná skool. Chris was ʼn jaar en ʼn half in die weermag. Dit was as gevolg van sy bekroonde solostuk vir die Dalro Nasionale Toneelkompetisie dat ʼn vrou – só bly hy deurentyd na haar verwys – hom “uit die weermag gekry het”. Die kommandant van die weermag het hom uitgeklaar ná dié vrou hom gaan spreek het, terg hy.

In wese was dít die begin van dié kunstenaar se suksesvolle loopbaan, en nié eers ná sy rol in 7de Laan waarna baie aanhangers hom leer ken en liefkry het nie.

ʼn Rol in die reeks Meester het gevolg, en in Januarie 1995 het hy sy eerste orkes, Blue Chameleon, gestig.

Dit was dié orkes wat vir die gewilde Sweedse groep Roxette op Ellispark voor sowat 56 000 mense geopen het.

“Voor dié opening was my grootste gehoor sekerlik 200 mense of minder,” vertel hy. Hy drink stadig aan sy latte, sy duim- en wysvinger stewig in die greep van die oor. Stylvol, anders as ek met my bakhande om die beker gevou.

“Ek onthou dié opening as die oomblik toe ek besef het ek is gemaak vir dié werk wat ek steeds vandag doen. Ek was gespanne, maar nie lam van spanning nie. Dit was ʼn ongelooflike oomblik.”

Dit was nie tóé dat sy groot deurbraak gekom het nie. Hy wás op ʼn “dwaalspoor”, verwys hy na my vroeëre vraag. Daar was dwelms betrokke, maar nooit was hy nié in beheer nie, sê hy ferm. Hy kon altyd keer voor dit te ver gaan. Hy antwoord my onsekerheid met ʼn vraag: “As jy selfdissipline het en jy kan gesag oor jouself uitoefen, dan beteken dit mos dat jy altyd in beheer kan wees?”

Ek knik.

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

In dié tyd was sy lewe effe “wilder” vanuit die buitestander se oog – Blue Chameleon het ʼn nagklub in Newtown in Johannesburg bestuur. Dáár het jy R20 ingang betaal en die aand omgedans met soveel knertsies soos jy wou. By dié nagklub het hy ʼn bestuurder van Dogtroep, die Nederlandse teatergroep, ontmoet, en is later saam met die groep Nederland toe om daar te gaan werk.

Dit was lank nie, toe verhuis hy Engeland toe om op plase te gaan werk. Hy het ʼn “vreesloosheid” vir werk gehad, en dit is dié einste vreesloosheid wat hom op die plaas laat eindig het. “Daar het ek amper vergeet ek het ooit gesing. Dit het my bang gemaak.”

Boo! se eerste optrede was op 31 Oktober 1997. Dié omstrede groep, waarvoor hy al die musiek geskryf en gekomponeer het, in hul minirokkies en grimering het kultus-status bereik in 24 lande wêreldwyd. Ten spyte van dié groep se voorkoms was hulle “inhoudelik ook lief en gaaf”, vertel hy. “En ons het nooit geweld gepromoveer nie. Die groep het ʼn manier gehad om mense saam te bring. Ons kon pop én metal sing, en mense van albei spektrums het ons musiek geniet. Die ekstremiteit was in wese net in ons voorkoms gewees.

“Boo! het die genre ‘monkiepunk’ gestig. Die groep het die speelsheid van ‘monkeys’ gehad en die musikale anargie van punk-musiek. Deur dit alles was Boo! ʼn Afrikaner in sy hart, ten spyte van hoe dit mag voorgekom het.”

Chris Chameleon saam met Daniella Deysel (Foto: Facebook)

Sy latte, nog driekwart, is yskoud. Hy verloor homself dikwels wanneer hy in gesprek is, vertel hy. Dan gebeur dinge soos dié: Sy latte is koud en hy bestel in ʼn nuwe een.

Die later jare van Boo! was nie meer soveel pret as in die begin nie. Dié keer drink hy groter slukke van sy drankie. “Ons was baie moerig vir mekaar. Daar was heeltyd dwelms betrokke, maar ons het een reël gehad: Jy mag nooit dwelms of drank gebruik voor jy op die verhoog gaan nie. Daaraan is nie meer voldoen nie en daar was baie bakleiery daaroor.”

Die laaste optrede was op 19 September 2004. Kort daarna is hy Italië toe vir ʼn ander afspraak, en kort daarna het die groep sonder hom in ʼn persverklaring, “so ewe vyf sinne met agt grammatikale foute”, die groep se einde aangekondig.

“Dit was ʼn absolute laagtepunt in my lewe. Ek het nie geweet wat ek met my lewe gaan doen nie. Ek het soveel van myself in die groep gesit,” sê hy.

Die lewe was vriendelik met hom; nie dadelik nie, maar uiteindelik. Nadat hy by die kantoorpark waar die 7de Laan-ateljee is ʼn pakkie moes gaan aflewer, het ʼn vriendin hom ʼn gedig laat toonset en sing vir dié sepie. Hy het ʼn gesonde obsessie met Ingrid Jonker ontwikkel in die vroeë 2000’s en het toe ʼn gedig van haar getoonset.

Daarna het die manna geval: Hy het die rol van Liam in dié sepie gekry, en – soos hy daarna verwys – “in die bewustheid van die algemene volk” begin verkeer.

Chris Chameleon saam met Daniella Deysel (Foto: Facebook)

“My musiek het my altyd op ʼn ongewone frekwensie gehou. Dit is nie iets waarmee almal vereenselwig het nie. Die rol in 7de Laan het my enorm gehelp. Ná dit oorgewaai het, was ek egter weer op die ongewone frekwensie.”

Dit is in dié tyd dat ʼn witleuen aan ʼn joernalis hom ʼn verband op sy woonstel laat uitneem het om sy Ingrid Jonker-album, Ek herhaal jou, te vervaardig. Dié album het dubbelplatinumstatus gekry.

Sy stem was nooit weer stil nie. Sy albums 7de hemel (2006), Ek vir jou (2007), Flight of an Extraordinary Alien (2007), Klassieke Chameleon (2008), Kyk hoe lyk ons nou (2009), As jy weer skryf (2011), Herleef (2013) en Posduif (2014) het gevolg.

Vandag is dié kunstenaar een van ʼn handjievol met ʼn lang en volgehoue loopbaan – en ʼn uiters suksesvolle een daarby.

Hy is stééds die fopdosser in die minirok, maar ook die vegter vir Afrikaans en die boerseun met ʼn hart vir die mens. En soos ʼn verkleurmannetjie, kán hy almal wees, want dít is sy natuur.

“Daarom kon ek in Engels sing om my Engelse gehoor te bereik, maar ook veg vir die behoud van my taal. Ek sê altyd: Tale, nes die natuur, is deel van ʼn ekologie. En elkeen is nodig om die ekologie te beskerm. Sonder een kan die ekologie nie funksioneer nie, sonder Afrikaans kan ons nie funksioneer nie. In elkeen van die tale wat ek praat (hy praat vlot Afrikaans, Engels, Duits en Nederlands) voel dit anders. Die persoonlikheid daarvan voel anders. Jy kan sekerlik redeneer iets kan van jou weggeneem word en jy kan aanpas, maar as jy my hart wegvat en vir my ʼn nuwe een gee, is dit nooit meer mý hart nie.”

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Sy jongste album, Jy en ek en ek en jy, is einde Maart uitgereik. Dié album is ʼn samestelling van vryeversgedigte wat hy self geskryf het.

“Ek kan met alle eerlikheid vir jou sê: Ná soveel jare pak ek elke konsert aan of dit my eerste is. Want om dié beroep te hê, om te sing – of jy dit nou doen in hakke en grimering of in kakie en vellies – is ʼn wonderlike voorreg.”

My alarm jil. Die tyd het met ons weggehardloop. Ons vra vir die rekening, hy bied aan om te betaal. Ek wys sy aanbod met moeite van die hand, maar hy druk steeds ʼn noot in my hand. “Vir die parkering,” sê hy ferm. “Anders moet jy kontant trek.”

Só kry die “inhoudelike goed en gaaf” waarna hy vroeër verwys het gestalte, besluit ek.

“Dankie,” aanvaar ek terwyl ek rats na die parkeerarea loop waar my motor al vir byna twee ure staan.

Vandag het ek twee dinge geleer: Onthou wie jy is, en moenie witleuens vertel nie, en as jy ooit ʼn fopdosser met swaar grimering, hakke en ʼn minirok teëkom, onthou net, hy is dalk ʼn Afrikaanse boerseun wat jou ʼn R10-noot in die hand wil druk wanneer jy in nood is.

Maroela Media het met Chris Chameleon in die ateljee gesels oor sy jongste album. Hy vertel oor sy inspirasie, gedigte en musiek oor die algemeen. Luister die podsending bo-aan die artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Kaitlyn ·

As ons weer hoor is hy Christine en op al wat ‘n voorblad is met sy nuwe transgender look!
Sy beminde sal ook laat weet sy het niks vermoed nie!

Piet Snot ·

Het hom in Dubai raakgeloop. Plat op die aarde; neem homself nie te ernstig op nie.
Regte Boerseun. Vreemde boerseun, maar ‘n egte een nietemin.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.