Luister: Disney-treffers klink op by Aardklop

DuPreez Strauss is die medemusiekregisseur en orkesdirigent van Disney se ‘The Lion King’-musiekblyspel. (Foto: Verskaf)

Die afgelope 12 jaar het die pianis DuPreez Strauss die wêreld plat gereis as medemusiekregisseur en orkesdirigent van Disney se The Lion King-musiekblyspel.

Op plaaslike front is dié Suid-Afrikaner egter meer bekend as aanbieder van die VIA-program My vreemde vriende en gehore kan solank regskuif want Strauss is terug in die land en hy het ʼn splinternuwe solo-musiekkonsert, Droomland, wat eersdaags by Aardklop en die Vrystaat Kunstefees te sien is.

Strauss, wat die laaste dekade gereeld in die buiteland getoer het, was onder meer in Singapoer, Nieu-Seeland en die Filippyne. Tog, vertel hy, is daar vir hom geen ander plek in die wêreld waar hy eerder wil wees as in Suid-Afrika nie.

“Hoe meer ek reis, hoe meer weet ek Suid-Afrika is my tuiste. Net voor ek terugkom, nadat ek in die buiteland getoer het, vra almal vir my hoekom ek na ʼn land met beurtkrag en stygende brandstofpryse wil terugkeer.

“Dan sê ek altyd vir mense dat elke land sy probleme het. Ek vat veel eerder Suid-Afrika se probleme, want die positiewes van Suid-Afrika weeg vir my baie meer as die negatiewe goed.”

Met sy jongste konsert, Droomland, wil Strauss gehore meevoer op die maat van alombekende Disney-treffers soos “Circle of Life” (uit The Lion King), “Let It Go” (uit Frozen), “A Whole New World” (uit Aladdin) en “Colours of the Wind” (uit Pocahontes).

“Om Disney-treffers slegs op die klavier met mense te deel, is vir my so ʼn opwindende gedagte. Ek dink baie mense het nog nooit daardie soort weergawe van hulle gunstelingmusiek uit die Disney-animasieflieks ervaar nie.

“Dit is ʼn heel ander belewenis wanneer gunstelingherinneringe uit jou kinderdae aangewakker word, nie deur die speelknoppie te druk nie, maar deur ʼn nuwe gewaad wat jy nog nooit gehoor het nie,” sê hy.

Volgens Strauss het Disney dit nog altyd reggekry om mense van alle ouderdomme met opbouende en positiewe stories te vermaak. “Daar is nooit iets negatiefs of afbrekend daaraan nie en dit is vir my waarin die towerkrag van Disney lê.”

Droomland is op 4 en 5 Oktober by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. Kaartjies kos R150 en is by Webtickets beskikbaar. Die Aardklop-aanbiedings is op 8 Oktober by die Laerskool Jan Celliers Kultuursentrum in Johannesburg en op 9 Oktober by die AfriForum Teater in Pretoria. Kaartjies vir dié vertonings is by Ticketpro en op AfriForum Teater se webwerf beskikbaar.

  • Strauss vertel sommer self waarna gehore nog kan uitsien in sy solo-musiekkonsert, Droomland. Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alexander ·

Baie interessante dokumentêr oor Disney deur Abigail Disney iets soos The American Dream and other fairy tales

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.