Luister: Gian Groen kikker ou liedjies op

Gian Groen (Foto: Verskaf)

Die sanger en liedjieskrywer Gian Groen sê hy het na die uitreiking van sy album getiteld #AlsIsNetLekker besef dat hy nou eers regtig tevrede is met die klank van sy musiek.

“Dit het tyd gevat, maar ek is bly dit het so lank geneem om op hierdie punt te kom want nou weet ek presies wat ek wil hê,” het die balladeskrywer in ʼn ateljeeonderhoud gesê.

Groen is al meer as twee dekades in die musiekbedryf betrokke en hy het tot dusver nege albums opgeneem.

Sy grootste treffer “Vier seisoene kind”, wat deur Laurika Rauch bekend gemaak is, is een van die Afrikaanse liedjies wat die meeste opgeneem is, naas Koos Kombuis se liedjie “Lisa se Klavier”.

Hy is ook vroeër vanjaar deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vir sy positiewe bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek vereer.

Groen vertel dat hy besig is om ʼn paar van sy ouer liedjies weer op te neem en dit word eersdaags uitgereik.

Sy jongste enkelsnit, “Niks verander die liefde nie”, is juis een van die snitte wat Groen opgediep het en dit is boonop saam met ʼn splinternuwe musiekvideo bekendgestel.

“‘Niks verander die liefde nie’ is ʼn heruitreiking van ʼn snit wat ek 15 jaar gelede geskryf het en die liedjie gaan oor lief en leed.

“Dit is aan die een kant so half ʼn trooslied van waardeur ons is, en aan die ander kant ʼn bevestiging dat daar niks belangriker as liefde in hierdie onsekere wêreld is nie. Ek wil my gehoor daaraan herinner,” sê hy.

Gian Groen (Foto: Verskaf)

“Niks verander die liefde nie” se musiekvideo is in Groen se ateljee op Gordonsbaai in die Wes-Kaap geskiet. Die musikante wat saam met hom speel is Guy Feldman (kitaar), JP le Roux (kitaar), Alex Power (baskitaar), Simon Sloane (tromme) en Jandré Spangenberg (klavier).

“Ons het nie regtig met ʼn spesifieke plan gewerk om ʼn storielyn te skryf en akteurs te gebruik om ʼn musiekvideo te maak nie,” verklap Groen oor die konsep. “Ons het sommer net waar ons opgeneem het almal op ons plekke gestaan en toe het Pierre Rossouw dit verfilm.”

Rossouw is die kinematograaf en vervaardiger, en hy het die regie hanteer tesame met Groen en Spangenberg, wat ook die naproduksie in sy ateljee, Totius Hill Studio, gedoen het.

Groen se tweede enkelsnit, met die titel “Lonely Troebadoer”, wat ook onlangs uitgereik is, is ʼn splinternuwe liedjie uit sy pen. Maroela Media het vroeër berig dat Groen dit tydens die pandemie geskryf het toe hy siek met Covid-19 was.

“Die ooglopende ding was om konserte te stroom vir die mense daar buite en sodoende die bedryf aan die gang te hou. Dit was ʼn verskriklike eensame plek om te wees vir ʼn troebadoer. So sit ʼn mens in ’n klein klankdigte vertrekkie met net ʼn kitaar en ’n kamera terwyl duisende mense die geleentheid kry om in te skakel.

“Dit is byna asof jy in ʼn glaskas sit en musiek maak waar die wêreld kan inkyk, maar die kunstenaar sien niemand nie,” vertel hy.

Groen sê hy was lanklaas so bedrywig. Buiten die snitte wat eersdaags heruitgereik word, sien Groen ook daarna uit om weer te toer en sy musiek met aanhangers te deel.

“Niks verander die liefde nie” en “Lonely troebadoer” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na “Niks verander die liefde nie” se musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.