Liefde onttroon vir hom álles en dit is waarom hy so graag oor die liefde skryf, sê Jake Burg, ʼn jong sanger wat vinnig opgang maak. Burg het verlede maand sy eerste enkelsnit, “Niemand soos jy”, uitgereik.
Hy vertel hy is ’n gewone outjie en die liedjie “Niemand soos jy” is deur die liefde en ʼn mooi meisie geïnspireer. “Ek sing daarin vir die mooiste meisie in die wêreld en stel haar gerus dat daar niemand soos sy in my oë is nie,” sê hy. “Ek is mal daaroor om te sing en glo dit is die beste manier om myself uit te druk. Musiek het die krag om tot baie mense te spreek en dit is magies. Dit is die salf vir die lewe se emosionele wonde,” sê hy.
Dié 23-jarige sanger het reeds wêreldwyd getoer om met sy sangtalent te spog. “Ek is in gr. 10 gekies as deel van ʼn groep van 12 musikante om in Japan te gaan optree en was ook ʼn vredesambassadeur vir Suid-Afrika.”
Hy sê Freddy Mercury, Jamie Cullum, Ed Sheeran, Jared Leto, Chris Martin en John Legend inspireer hom geweldig baie. “Maar ek wil steeds uniek wees en my eie musiek maak. Ek dink wel die album kry dit reg en ek sien dit aan die reaksie van die publiek op my eerste enkelsnit.”
Burg beplan om einde Desember sy eerste vollengte album uit te reik. Hoewel hy op die oomblik die meeste van sy tyd in die ateljee deurbring, kan aanhangers binnekort ʼn paar konserte verwag.
Besoek sy Facebook blad.