Luister: Jeanette vier 30 jaar in musiekbedryf met ode aan Afrikaans

Jeanette Pretorius. (Foto: Verskaf)

Die sangeres en liedjieskrywer Jeanette Pretorius onthou hoe sy as klein dogtertjie saam met die ikoniese sangers Gé Korsten en Rina Hugo op die verhoog gestaan het, én hoe sy en haar ander klein sangmaats agter die gordyne gegiggel het vir hoe dié sangers hulle stemme opwarm.

Jeanette vier vanjaar 30 jaar in die musiekbedryf en haar langdurige sangloopbaan floreer vandag nog.

Sy is dikwels op die verhoog te sien saam met Bee Bee die By, of saam met Hansie Roodt as deel van die musiekgroep Heuning.

Haar jongste solo-uitreiking, “Trots Afrikaans”, is ook ʼn vuurwarm treffer op al wat ʼn radiostasie is. Jeanette vertel in Maroela Media se ateljee dat dié prettige popsnit met die diep lirieke geïnspireer is deur Afrikaners se vermoë om die humor in moeilike omstandighede raak te sien.

“Ek vind as ek met mense gesels, is daar ʼn negatiewe ingesteldheid, al probeer ons hoe hard om positief te bly.

“Ek wou ʼn ligte liedjie skryf wat nie noodwendig oor die liefde of ʼn swaar tema handel nie. Een aand tydens beurtkrag het ek ʼn grappie ontvang oor die kragsituasie en dit was vir my só snaaks. Ek het net weer besef hoe ons as Afrikaners se sin vir humor ons deur alles dra en hoe ons sterker is as wat ons dink,” sê Jeanette.

Sy geniet dit om verskillende hoede in die musiekbedryf te dra. “Partykeer moet jy jouself weer in ʼn ander genre bevind, maar om deursettingsvermoë te hê in die bedryf en om veelsydig te wees, is vir my lekker.”

As onafhanklike kunstenaar wat self finansieel moet pa staan vir al die musiek wat sy uitreik, het sy ook besluit om self die musiekvideo vir “Trots Afrikaans” aan te pak.

Sy het ʼn vriendin met ʼn pragtige plaas op Thabazimbi, asook dié se twee kaalvoet-plaaskinders, genader om in die video te verskyn. Jeanette het ook saam met Jacques Mouton en sangmaat Hansie ʼn paar skote by ʼn plaasdam naby Centurion geneem.

“Dit is ʼn lieflike musiekvideo en beeld die storie wat deur die liedjie vertel word uit.”

Jeanette het op laerskool haar eerste platekontrak by Decibel Musiek losgeslaan. Dit is ook op dié maatskappy se feesverhoë waar sy haar talent vir sang en skryf saam met ikoniese kunstenaars kon slyp.

“Ek onthou nog hoe my bestuurder, Lydia Winchester, my as klein dogtertjie Woolworths toe gevat het om vir my te gaan klere koop. Sy speel nog altyd ʼn belangrike rol in my loopbaan en in my lewe. Sy is soos ʼn ander ma vir my.”

Sy skerts dat sy nie haarself op die verhoog kan sien met ʼn kierie nie, maar voeg by dat sy tog tot op haar oudag in die musiekbedryf betrokke wil wees.

“As ek nie vir myself musiek skryf nie, sal ek graag vir ander kunstenaars wil skryf. Vir nou voel ek egter nog bloedjonk en ek glo dit is ʼn voorreg dat my werk vir my lekker is. As jou werk lekker is, werk jy nie ʼn dag in jou lewe nie.”

“Trots Afrikaans” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.