Luister: Piet Botha is op die ‘Middernagtrein’

Die Middernagtrein_Cover (002)Sewe jaar ná sy laaste Afrikaanse aanbieding het die blues-en-rockmusikant Piet Botha sy jongste album, Die middernagtrein, in Maart vanjaar aan die wêreld bekend gestel. Dit is sy sesde vollengte album in Afrikaans.

“Ons wou nog altyd weer ʼn Afrikaanse album maak, maar die tyd gaan so vinnig verby,” sê Piet en vryf nadenkend oor sy grys baard. “Dis vreemd hoe vinnig die tyd verby gaan as jy ouer word.”

Aanhangers van Piet en die rockgroep Jack Hammer wat iets rustigers verwag het, mag dalk verras wees. “Ons wou oorspronklik eintlik die album in Jeffreysbaai gaan opneem het, daar in ʼn huis op die strand, maar die logistiek daarvoor was ʼn bietjie rof. Ons sou die album al verlede jaar opgeneem het, maar toe gebeur die ongeluk in Margate wat al ons beplanning maande en maande teruggesit het. Terugskouend het ʼn ou weer ander introspeksie op die liedjies gekry en het daar ook nuwe goed bygekom, so daaroor was ek baie bly.”

Piet het vroeg in 2017 ernstige rugbeserings opgedoen in Margate toe hy van die verhoog afgeval het tydens ʼn Jack Hammer-konsert op die Suidkus-motorfietsfees.

Die liedjie “Die middernagtrein” was reeds klaar geskryf toe Piet in die hospitaal beland het. “Dis ʼn metafoor vir hoe gevaarlik rock ʼn roll is,” lag hy en die ironie ontglip hom duidelik nie. “Daar is goed in die lewe waarvoor ʼn mens nie kan weghardloop nie. Dis maar die noodlot, dís wat die middernagtrein is. Dis spookagtig, verbode, soos wanneer mens huis toe ry ná ʼn vertoning in die middel van die nag. Die middernagtrein is maar ʼn metafoor vir die lewe op die pad.”

Hy sê hy weet dit klink donker. “Dit is beslis nie ʼn ligte album nie. Ons het begin opneem en aanvanklik gedink dit gaan meer akoesties wees, maar, soos hulle sê, begin alles eers as die drommedaris,” skerts hy.

Tale fassineer hom en hy sê Afrikaans is “heeltemal ʼn ander ding”. “Dis snaaks. Die metrum is anders. Afrikaans het wonderlike, harde klanke wat goed saamgaan met perkussie. Oor die taal waarin ek sing is ek nie gepla nie. Ek wens ek kon in Russies skryf, want elke taal het seer sekerlik ʼn ander metrum. As jy kyk na die Franse musiek en so – dit fassineer my geweldig.”

Eugène Marais se werke inspireer hom nog altyd en dié slag het dié skrywer se kortverhaalbundel, Dwaalstories, weer lirieke in die album ontlok. Piet vertel dat hy, op aanbeveling van die regisseur van die album, Lanie van der Walt, woorde moes skryf vir die magdom instrumentele stukke wat hulle vir die album gehad het.

“Daarin vertel hy van sy tyd saam met die Boesmans en daar is toe ʼn stukkie prosa in die boek oor ʼn ou wat die reëndans doen wat perfek werk saam met die musiek. Dit word so bo-oor die musiek gepraat, en toe werk dit net. So, Eugène Marais ry saam op die middernagtrein.”

Dit is nie die eerste keer dat hy saamry nie, vertel Piet. “Spookpsalms” … “Winternag” …” noem hy op. “Hy was ʼn pionier. Sy persoonlike lewe is ʼn hartseerverhaal, maar dit wat hy destyds gedoen het, is nou nog ongelooflik.”

Op 62 is hy nie bang om te toer nie. “Noudat ek ouer word kyk ek na wat mense soos Willie Nelson doen. Hy is vir my ʼn groot rolmodel. Ons toer aanhoudend, dan is ons in die Kaap dan is ons hier. ʼn Mens kan omtrent twee jaar op die pad bly met ʼn album, maar jy moet nuwe musiek skryf in die tussentyd.”

Die album is by alle groot musiekhandelaars landswyd beskikbaar asook op digitale platforms soos iTunes. Volg Piet Botha se Facebook-blad vir toerdatums.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae