Luister: Posduif gesels oor Sama-prys

James Boland en Amiel Gopal van Posduif kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Min het die lede van die Afrikaanse rockgroep Posduif destyds, toe hulle debuutalbum, Niks vergelyk, uitgereik is, geweet dat hulle sowat ʼn jaar later ʼn Sama-toekenning (South African Music Awards) daarvoor sou inoes.

Die Kaapse groep, wat treffers soos “Laat val die water” en “Stellenbosch somersaand” die lig laat sien het, is saam met groot name in die Afrikaanse musiekbedryf soos Janie Bay, Juan Boucher en Elandré in die kategorie vir beste popalbum benoem.

Die Sama-pryse is in Augustus vanjaar tydens twee seremonies by die Sun City Superbowl uitgedeel.

James Boland, voorsanger van die groep, het saam met baskitaarspeler Amiel Gopal in die Maroela Media-ateljee gekuier om oor dié gesogte prys te gesels.

“Ons kry nou nog hoendervleis as ons daaraan dink. Ons het die prestasie behoorlik gevier,” sê James, wat saam met kitaarspeler Nick Jordaan die Sama-geleentheid in Johannesburg bygewoon het.

Hulle vertel laggend hulle het so ʼn skrale verwagting gehad om die beeldjie huis toe te vat dat hulle byna daarteen besluit het om die geleentheid by te woon.

“Natuurlik hoop jy dat jy gaan wen, maar om werklik die erkenning te kry en op die Sama-verhoog te staan, is ʼn ongelooflike voorreg.”

Niks vergelyk is onafhanklik opgeneem, maar Posduif het intussen ʼn platekontrak met Select Musiek en Platinum Musiek, wat deur Kosie van Niekerk gestig is, gesluit. Die groep beplan om binnekort twee nuwe enkelsnitte uit te reik.

“Ons voel baie bevoorreg om deur so ʼn groot maatskappy nadergetrek te wees. Ons het soveel ondersteuning ontvang die afgelope paar jaar, waaroor ons baie dankbaar is.”

James Boland en Nick Jordaan van Posduif met hulle Sama-prys. (Foto: Facebook)

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Posduif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.