Samas 2022: Die Heuwels, Posduif vereer

Die Heuwels Fantasties. (Foto: André Badenhorst)

Wenners van vanjaar se Sama-toekennings (South African Music Awards) is Saterdag en Sondag tydens twee seremonies by die Sun City Superbowl aangekondig.

Die TV-persoonlikheid Lawrence Maleka en die sangeres Nandi Madida het as seremoniemeesters opgetree.

Die Heuwels Fantasties het vir ʼn tweede agtereenvolgende jaar met die prys vir beste kontemporêre album vir Volume weggestap. Dié Kaapse musiekgroep is verlede jaar in dieselfde kategorie vereer vir hulle album Herverbeel.

“Dankie aan almal wat saam met ons Volume gemaak het! Ons sou dit nie sonder julle kon doen nie,” het die groep op sosiale media gesê.

Jodi Jantjies (Woorde), Jan Jan Jan (Al die ysters), Jennifer Zamudio (Twintigeenentwintig) en Neil Sandilands (Sangoma Sandilands en jou pa se posse MAANSKYN) is ook vanjaar in dié kategorie benoem.

Posduif. (Foto: Gabriel McCreadie)

Die musiekgroep Posduif is met die toekenning vir beste Afrikaanse popalbum vereer vir hulle debuutalbum Niks vergelyk.

“Baie dankie aan almal se ongelooflike ondersteuning en liefde,” het die groep op Instagram geskryf.

Posduif het Janie Bay (Prisma), Rita Li (Roekeloos verlief), Elandré (Rugsak) en Juan Boucher (Hier waar ek nou is) in dié kategorie uitgestof.

Springbok Nude Girls, die rockgroep met Arno Carstens as voorsanger, het die prys vir beste rock album vir Partypocolypse ontvang.

Die platejoggie Black Coffee, wat vroeër vanjaar ʼn Grammy-toekenning ingeoes het vir sy album Subconsciously, het die Internasionale Presteerder-toekenning gewen op vanjaar se Samas.

Shekinah se Trouble in Paradise is as die beste popalbum aangewys, terwyl Alice Phoebe Lou se Glow as beste alternatiewe album aangewys is.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.