Luister: Simoné Roets se album ʼn sprong van waagmoed

Simoné Roets. (Foto: verskaf)

Simoné Roets het vier jaar gelede nog saam met haar man in Brisbane, Australië, gebly toe sy aan ʼn Afrikaanse album begin werk het. Vandag is sy terug in Suid-Afrika met ʼn debuutalbum, Herinner my, wat nou op die rakke pryk.

“Ek was nog altyd bietjie bang om in Afrikaans te skryf,” erken Simoné.

“Dit was vir my ʼn risiko. Afrikaans is so mooi, beskrywende taal. Hoe regverdig mens iets daarin?”

Tog, met Engels wat om haar heen geheers het, ʼn wêreld ver van waar sy grootgeword het, het Afrikaans opnuut tuis geword in Simoné se hart en musiek. Dit is juis ook omdat sy en haar gesin nou terug in Suid-Afrika is dat dié Afrikaanse album haar hart opnuut van trots laat klop.

Dit is ʼn stukkie van haarself, vertel Simoné.

“Dit maak mens bang – jy sit iets van jouself op die tafel vir ander om te oordeel, maar ek het ook geleer dat mens nie bekommerd moet wees oor dit wat jy daar buite sit nie,” sê sy.

“Dit steel by die pad wat jy stap, die proses om dit op te neem en by die mense wat jy langs die pad ontmoet.”

Die eerste liedjie wat sy van hierdie album geskryf het, “Herinner my”, is ook die naam van die nuwe album en is geskryf toe Simoné steeds in Australië gewoon het.

Haar avontuur in ʼn ander land was vreemd, erken sy, maar sy sal dit nie vir enigiets verruil nie.

“Brisbane was ʼn ongelooflike ervaring, ons sou nie die mense gewees het wat ons is sonder die ervaring nie. Daar is ʼn stuk volwassenheid wat saam kom met ver-van-alles-wat-jy-ken-wees.”

“Al daardie dinge leer jou ietsie van jouself. Dit het van my ʼn beter musikant en skrywer gemaak.”

Al die liedjies op die album vertel hul eie storie. Simoné het haar eie lewe as muse daarvoor gebruik, maar sien ook uit daarna dat luisteraars dit self interpreteer en hul eie maak.

Die liedjie, “Skete”, wat saam met die album as enkelsnit uitgereik word, is ʼn liedjie wat vreugde bring, maar ook die kwessie van teenwoordigheid in alle aspekte aanspreek.

“So baie van ons sê dat ons in die hede leef, maar doen ons werklik?”

“’Skete’ spreek ʼn ernstiger vraag aan: Het ons die vermoë om in die hede te leef?”

Herinner my is nou op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk na “Herinner my” se musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.