
Rudie Grobler, Martin Viljoen en Johan Duvenhage van Die VatVas Dansorkes. Koos van Dyk is afwesig. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)
Die VatVas Dansorkes bestaan uit drie generasies van talentvolle musikante. Dié orkes se splinternuwe enkelsnit, “Rudie se tokkel”, is juis gekomponeer deur die jongste lid van die vierstuk-ensemble.
Die musikale manne, Rudie Grobler (elektriese kitaar), Koos van Dyk (tromme), Martin Viljoen (baskitaar) en Johan Duvenhage (elektriese kitaar), is nou al langer as ses jaar op die Afrikaanse musiektoneel as Die VatVas Dansorkes en het al ʼn hele paar musiekpryse laat inrol.
Hulle het al ’n Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (SAMA) en ‘n Aitsa-, Afri-Indie- en Ghoema-toekenning ontvang vir liedjies soos “Volstruis vastrap” en die album, Kitaar verlange.
Volgens Rudie, ʼn ingenieur van beroep en meesterkitaarspeler, is die kitaar die hoofinstrument in die snit en het hy ʼn vinnige plektrum-styl ingespan om die snit ’n “Boeremusiek-aanslag” te gee.
“Boeremusiek is in ons bloed en dit is hoekom ek die liedjie geskryf het. Die terugvoer oor die liedjie is oorweldigend. Ons verskyn op ʼn hele paar treffersparades en dit is eintlik net ʼn lekker voorsmakie van wat nog kom,” sê Rudie in Maroela Media se ateljee.
Volgens Martin het die orkes se musiek ʼn country-rock-klank en spits hulle hulself daarop toe om ritmes en verwerkings te gebruik wat luisteraars na die dansvloer lok.
“Langarmdans is iets wat vir ʼn tyd lank nie onder jongmense gewild was nie, maar ons sien dat dit weer al hoe meer onder die jongklomp posvat,” voeg Johan by.
“Ons musiek is egter van so aard dat jy daarna kan luister op die dansvloer, langs die braaivleisvuur of by die viswaters. Dit is wat dit vir ons lekker maak, en soveel mense kontak ons om te sê ons musiek laat die voete jeuk. Ons klank is anders en uniek. Dit laat ons uitstaan.”
Johan onthou hoe hy as kind vir die eerste keer ʼn kitaar vasgehou het en die klank van ʼn kitaar sy verbeelding aangegryp het.
“Aan die begin van VasVat het ons sommer net vir die familie gespeel, maar later het ons verder uitgebrei en ontwikkel tot waar ons vandag is.”
Rudie vertel dat sy oorlede pa, self ʼn kranige musikant, ʼn liefde vir musiek by hom gekweek het.
“Hy het in orkeste gespeel en selfs saam met oom Johan in orkeste gespeel. Ná sy afsterwe het ek en oom Johan besluit om ʼn liedjie op te neem, en vandaar het Martin en Koos bygekom. Só het VatVas ontstaan, en ek is nie ʼn oomblik spyt nie.”
“Rudie se tokkel” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.
- Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Die VatVas Dansorkes.
Uitstekende orkes en absuluut baie baie lekker luister ,daans , braai of vis vang musiek . Baie unieke styl en klank . Hoendervleis oomblikke !