Luister: ‘Wees self gelukkig voor jy liefde soek,’ sê Brendan

Brendan Peyper. (Foto: Brendan Peyper/Instagram)

Brendan Peyper het twee jaar lank kykNET se uitnodigings om aan die maatsoek-reeks Op my eish! deel te neem van die hand gewys. Hoewel hy destyds gevoel het dat hy nog nie reg was om só ʼn reis aan te pak nie, is hy vandag seker dat hy die koring van die kaf kan skei as dit by ware liefde kom.

Dié 27-jarige sanger wat deesdae elke Donderdagaand op die kassie te sien is, sê dat dit belangrik is om eers gelukkig op jou eie te wees voordat jy ʼn soektog na liefde kan begin.

“Jy kan jouself nie vir so iets voorberei nie. In jou hart moet jy op ʼn goeie plek wees.

“Ek dink dit is onregverdig om van iemand anders te verwag om jou gelukkig te maak. Jy kan nie verwag dat jou vrou of man jou gelukkig moet maak nie, jy moet eers daardie geluk in jouself vind,” vertel Brendan in Maroela Media se ateljee.

Brendan voel dat hy soveel in sy persoonlike lewe gegroei het, dat hy nou reg is om daardie groot sprong te neem om liefde te vind.

“Ek het myself nooit in so ʼn program gesien nie,” erken hy. “Ek het in ʼn stadium gekom waar ek besef het dat my intuïsie nou beter is. Ek het geweet wat goed en sleg is vir my.”

Die program het egter meer vir hom beteken as ʼn blote soektog na liefde.

“Vir my persoonlik was dit ʼn baie goeie journey. Jy leer jou self ken, en hoe jy reageer op verskillende mense en hul stories. Dit was ʼn opbouende ervaring.”

Soen jy soos jy dans?

Brendan spog vandag met ʼn splinternuwe liedjie, “Soen soos wat jy dans”, op sy kerfstok. Hoewel kykers weekliks sy soeke na liefde stip dophou, was dit nie een van die Op my eish!-vroue wat inspirasie vir dié liedjie was nie.

Vir Brendan is dit nog ʼn herinnering aan sy grootworddae, waar sokkie ʼn alledaagse verskynsel was.

“Ek leer nog die girls hier in Pretoria reg sokkie,” skerts hy.

Die liedjie gaan oor ʼn eerste dans, en hoe dit kan lei tot die vraag: “Kan hierdie meisie so lekker soen soos wat sy dans?” Dit vorm deel van ʼn kortspeelalbum wat later vanjaar uitgereik word.

“Ek het geskuur en geskaaf aan hierdie liedjies. Dit is sewe liedjies uit ʼn volle 30,” vertel hy.

“Ek hou nie op skryf nie. Ek is op ʼn lekker plek met my skryfwerk. Daar is groot goed wat op pad is waarna ek verskriklik uitsien.”

  • Luister boaan die artikel na ʼn volledige klankonderhoud met Brendan Peyper.
  • Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144 uitgesaai.

Luister na “Soen soos wat jy dans” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.