Luna Paige waag met digitale musiekreeks

Luna Paige (Foto: Jessica Botha)

Luna Paige tob al ʼn geruime tyd oor die uitwerking van die digitale era op musiekverkope. In die lig van die Covid-19-pandemie en die invloed daarvan op musikante se inkomstestrome, het Paige ook kopgekrap oor die verpakking en verkope van haar musiek.

Sy het uiteindelik besluit om haar nuwe musiekreeks digitaal en in seisoene op YouTube en in ʼn eksklusiewe aanlyn winkel vry te stel.

“Dit is ʼn eksperiment wat ek bereid is om te doen,” sê Paige. “Ek hoop om alternatiewe tot die digitale landskap soos ons hom nou ken, te verken en te vind.”

Paige glo dit is noodsaaklik om ander moontlikhede te ondersoek omdat musikante derduisende rande in hul opnames en oudiovisuele promosiemateriaal belê. “Daar is min of geen finansiële ondersteuning en bykans geen waarborg van opbrengs op sulke beleggings nie,” sê sy.

Haar laaste soloalbum, Borders & Beyond, is in 2014 vrygestel. Sedertdien het Paige haar aandag toegespits op die stigting en ontwikkeling van Iluminar Produksies. Binne dié produksiemaatskappy het haar werk as vervaardiger, liedjieskrywer en sangeres gelei tot die Sama-genomineerde album en musiekteaterproduksie Korreltjie Kantel. Iluminar Produksies het tussen 2015 en vroeg 2020 ook verskeie ander musiekproduksies op talle feesverhoë oor die hele Suid-Afrika aangebied.

Paige het in hierdie tyd ook op kunstenaar- en kunsteontwikkeling gekonsentreer, asook die koördinering van musiek- en opvoedkundige geleenthede in en om haar omgewing. Met feeste en musiekgeleenthede wat weens die Covid-19-pandemie nie kon plaasvind nie, het Paige die geleentheid benut om aan haar eie musiek te werk.

“Ek het in 2019 eintlik al begin om tussendeur aan nuwe materiaal te werk. Die inperking was toe ʼn gulde geleentheid om verder te skryf en die nuwe musiek te verwerk vir vrystelling,” vertel sy.

Die eerste seisoen in die reeks, Behold, My Heart, speel met sake van die hart – lig én donker. Dit bestaan uit vier liedjies wat op 4 Augustus vrygestel word. Die stryk- en blaasinstrumentdele is deur die bekroonde komponis Matthijs van Dijk verwerk. Jonno Sweetman (tromme), Brydon Bolton (kontrabas) en Mark Buchanan (kitare) het as orkes by Paige in die ateljee aangesluit. Sangers Adelia Douw en Ongx Mona sing dié lied saam met Paige.

Aanhangers kan uitsien na nóg beeldmateriaal wat binne die volgende twee weke vrygestel word. Dit gee ʼn voorsmakie van Paige se ander drie enkelsnitte, naamlik Can it be, I’ll Receive en Little Lies. Laasgenoemde sal ook ʼn musiekvideo insluit.

Weens die pandemie maak Paige staat op skarefinansiering en ondersteuning van haar aanhangers en musiekliefhebbers. Sy het ʼn geldinsamelingsveldtog op Quicket van stapel gestuur waar mense ʼn bydrae kan lewer en vir heerlike pryse in aanmerking kom. Musiekliefhebbers wat vooraf die musiek bestel en betaal, ontvang boonop ʼn gratis kaartjie na Paige se konsert wat in Stellenbosch plaasvind sodra die inperkingsregulasies verslap word.

Behold, My Heart sal opgevolg word met ʼn tweede seisoen, With these eyes I feel, wat rock, en belangrike sosiale kwessies aanraak. Maar vir eers, soos dinge maar loop – kom die hart eerste.

Vir meer inligting, skakel met Luna Paige by [email protected] of besoek haar Facebook-blad om meer te wete te kom. Paige se nuwe webwerf en aanlyn winkel sal op 4 Augustus aktief wees.

Luister hier na ʼn voorsmakie van die eerste enkelsnit, I Long: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.