Lydia Winchester: ‘Môre lyk dit anders’

Lydia Winchester (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Lydia Winchester is dalk nie ewe bekend aan Jan Alleman nie, maar in die musiekbedryf en agter die skerms is dié vurige rooikop al 34 jaar besig om as publisiteitsagent en skakelbeampte te woeker.

Sedert sy die bedryf in 1986 betree het, het sy saam met ikoniese kunstenaars soos Min Shaw, Gé Korsten, Annelie van Rooyen en Johan Stemmet gewerk. Lydia het ook talle nuwelinge soos Jakkie Louw, Jan Blohm, Jennifer Zamudio en Rudi Muller, onder haar vlerk geneem.

In 2017 is sy met ʼn ATKV-oorkonde vereer en in 2018 ontvang sy ʼn eretoekenning by die Ghoemas vir haar lewenslange bydrae tot die plaaslike musiekbedryf. Lydia is ook in 2019 deur kykNet vereer met ‘n dokumentêre rolprent van haar loopbaan. Dié dokumentêr vorm deel van die televisiereeks Legendes van Afrikaanse Musiek.

Maroela Media het ʼn draai in Lydia se sitkamer gemaak om te gesels oor haar grootwordjare, die begin van haar loopbaan en die lewenslesse wat sy geleer het.

‘n Foto van Lydia uit haar jonger dae (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Ek het heel toevallig in die bedryf beland

Ná skool het Lydia dadelik begin werk, grootliks omdat geld vir verdere studies onbekombaar was. “Ons het ook nooit sakgeld gekry nie. Daardie dae was net anders,” vertel sy.

Lydia het eers by die poskantoor gewerk en later administratiewe werk en kliëntediens by General Motors hanteer. Daarna het sy as skakelbeampte by Delta Motors gewerk en in 1986 besluit dis tyd om aan te beweeg. Sy was toe dertig jaar oud.

“Ek was in ’n stadium van my lewe waar ek gereed was om ’n beroepskuif te maak,” verduidelik Lydia. Sy het egter nooit ʼn loopbaan in die musiekbedryf oorweeg nie, totdat die geleentheid hom voorgedoen het.

“Nee, Krismis! Is jy mal? Ek het per ongeluk daar beland,” reageer sy. Toe Lydia van die pos by die Decibel-platemaatskappy hoor, het sy dadelik aansoek gedoen.

“Hoewel ek nie ’n idee gehad het wat in die musiekbedryf aangaan nie, het dit my nog altyd gefassineer,” vertel sy. “Ek het van kleins af ʼn liefde vir musiek gehad, maar nie Afrikaanse musiek nie. Ek is eintlik ʼn rocker.”

Haar vroegste musiekherinneringe was in die tyd toe Creedence Clearwater Revival se album vrygestel is. Sy is ook gaande oor Janis Joplin, Tina Turner, die Beatles en Elvis Presley se musiek.

Lydia dink terug aan die dag toe sy ʼn onderhoud saam met Boet Pretorius en Leon Schuster by Decibel gehad het. “Ek weet tot vandag toe nie wat hulle oortuig het dat ek geskik vir die werk is nie, want ek was heeltemal clueless!” erken sy.

“Nietemin, Boet het my ’n kans gegee en ek sal hom ewig dankbaar daarvoor bly.”

Sy is aangestel as Pretorius se assistent en is later tot skakelbeampte bevorder.

“Ek onthou nog hoe ek die eerste keer stoksielalleen SAUK toe moes gaan,” vertel sy. “Ek was doodbang en verdwaald in daardie groot geboue en ek moes nuwelinge soos Danie Botha, Riaan Nienaber en Bill Flynn gaan bekendstel het. Gelukkig voel dié einste groot geboue nou al soos my tweede huis.”

Lydia gesels oor memorabilia in haar kantoor (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Lydia het van 1987 tot 2000 by Decibel gewerk. Sedert 2001 werk sy as ʼn vryskut-praktisyn en behartig onder meer reklame vir EMI, Universal, en Vonk Musiek.

In ʼn terugblik op haar loopbaan sonder Lydia twee laagtepunte uit – Gé Korsten se afsterwe en die einde van die Decibel-platemaatskappy.

“Gé was nie net ’n goeie vriend nie, maar ook ’n leermeester vir my,” vertel sy. Lydia onthou dié dag soos gister, veral die onophoudelike gelui van telefone én die ontsaglike hartseer wat sy self ervaar het. Nog ʼn donker dag was toe Decibel sy deure gesluit het.

“Decibel was my vormingsjare in die bedryf en my fondasies was half onder my uitgeruk toe dit toegemaak het,” sê sy. Hoewel dit ʼn geweldige onseker tyd vir Lydia was, was die volgende hoofstuk oënskynlik dié hoogtepunt in haar loopbaan.

“Na tien jaar moes ek vir myself ʼn nuwe fondasie skep, daarom het ek besluit om my eie ding te doen. Om dus ná 26 jaar as vryskutwerker steeds ’n goeie naam te handhaaf en met van Suid-Afrika se bemindste kunstenaars kan werk, is ʼn absolute voorreg.”

Lydia saam met haar ma, Nellie (Foto: Verskaf)

Ek wou nie skool toe gaan nie. Ek het dit gehaat.

Lydia Doreen Barnard (Winchester) is op 23 Februarie 1956 in Krugersdorp gebore. Sy is die oudste van ses kinders. Hulle gesin het in daardie stadium in Carletonville gebly, waar haar pa op die myn gewerk het.

“My ouers is geskei toe ek een jaar oud was,” vertel Lydia. “My ma het later weer getrou.”

Sy het ʼn geweldige bewondering vir haar ma én Ouma Rautenbach, wat albei ʼn prominente rol in haar vormingjare gespeel het. Lydia het kort voor die begin van haar skoolloopbaan by Ouma Rautenbach in Brakpan gaan bly. Sy onthou dat dit soms broekskeur gegaan het, maar erken dat dit haar gevorm het.

“Daai jare was daar nog nie grondboontjiebotter soos ons dit vandag in botteltjies koop nie,” vertel sy. “Daar was ook nie koekrollers nie. My ouma het met ʼn bierbottel die grondboontjies fyn gedruk en gerol.”

Lydia het haar skoolloopbaan by Laerskool Môrewag in Brakpan begin. Sy onthou dat hulle op een of ander tyd Springs toe getrek het waar sy by Laerskool Selectionpark ingeskryf is.

Herinneringe aan haar skoolloopbaan rus op twee gedagtes – dat sy dit gehaat het én dat sy gek was oor sport.

“Hoewel ek skool verpes het, was ek sportbehep,” erken dié voormalige SA atleet en muurbalspeler. “Ek het selfs na skool nog gehardloop, totdat ek een dag oor ʼn rot op ʼn mynhoop gestruikel het.”

In die proses het sy haar ligamente geskeur en sy het daarna nie meer gehardloop nie, maar wel aan ander sportsoorte deelgeneem.

“Ek oefen nog steeds vyf maal ʼn week,” vertel Lydia.

Lydia saam met haar hondekinders, Toby en Andy. Albei is intussen oorlede (Foto: Verskaf)

Ek sal nooit rustig wees nie

Kort voor Lydia se vier-en-sestigste verjaarsdag is daar nog geen teken van rustigheid in dié rooikop se lewe nie.

“Ek lag as mense vra wat ek op ʼn Saterdag of ʼn Sondag doen. Excuse me for you? Ek werk,” sê sy. Lydia is oor naweke óók besig om haar kunstenaars te bestuur.

“My bedryf het geen vaste werksure nie en ek sorg dat ek 24 uur van die dag vir my kunstenaars beskikbaar is,” verduidelik sy. Tussendeur sorg Lydia self dat die tuin op spesifieke tye natgespuit word en sy maak tyd om by vriende uit te kom.

Lydia doen oor naweke inkopies en sorg dat sy gereeld tyd saam met haar ma deurbring.

“Ek is ʼn kuiermens en almal weet dit,” spot sy. “Maar al is dit hoe besig, moet ek in die week Binnelanders kyk,” erken sy. “Ek vrek daaroor, omdat ek omtrent almal ken wat daarin speel.”

Ander stokperdjies waarvoor sy tyd maak, is om nou en dan self te kook en natuurlik is sy ʼn bobaas braaier.

“Ek sal enige man onder die tafel in braai,” vertel sy trots.

In ʼn meer ernstige luim gesels sy oor die rol wat geloof in haar lewe en toekoms speel.

“My toekoms is in God se hande,” erken Lydia. “Jy moet net elke dag voluit lewe en jou beste lewer, want miskien is vandag jou laaste dag.”

Haar stem is kwaai, bieg sy, veral wanneer sy met haar kunstenaars werk en Lydia is puntenerig oor voorkoms en voorbereiding. Maar agter dié bravade skuil ʼn sagte hart wat steeds na soveel jaar die ekstra myl vir mense sal loop.

Luister hier hoe Lydia oor haar ma se invloedryke rol in haar lewe gesels:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.