Musiekster om dop te hou: Jacques Leonard

Jacques Leonard. (Foto: Casper Labuschagne)

Die sanger en liedjieskrywer Jacques Leonard (24) is ʼn dromer en denker wat dié aspekte van sy persoonlikheid in sy musiek ten toon stel.

Leonard vertel hy het die afgelope twee jaar baie eksperimenteel met sy musiek omgegaan en dat dit nie in ʼn boksie geplaas kan word nie.

“Ek wil net klanke skep in Afrikaans en nie klink soos iemand anders nie, hoewel ek inspirasie put uit ander kunstenaars soos Post Malone en Francois van Coke. Daar is net nie iemand soos Francois nie en niemand kan hom namaak nie. Dit is die doel met my musiek – ek hou daarvan as jy kan hoor dit is die ware persoon agter die musiek en nie net ʼn front nie,” vertel Leonard.

Hy het ʼn hele paar musiekvideo’s op sy kerfstok vir liedjies soos “Bang wees vir oud word”, “In my hart is jy”, “Kalmeer my as ek rof raak” en sy jongste snit, “Gee my net kans”.

“Baie goed wat ek voorheen gedoen het, is dalk ʼn bietjie vreemd vir die deursnee-luisteraar, maar mense het nog nie ʼn idee wie ek is nie. So, met die nuwe liedjie wou ek ʼn bietjie meer van myself wys. Ek wou met die video die stories opsy sit en net wees,” sê hy.

Hy voeg by dat dit ʼn moeilike taak is om almal tevrede te stel wanneer dit kom by musiek, maar dat hy ten spyte daarvan steeds met sy nuwe snitte poog om iets te skep waarby ʼn groter gehoor aanklank sal vind.

“Ek kan onthou hoe musiek my reeds as kind laat voel het asof ek die wêreld kan verower. As ek na musiek luister, doen dit iets aan my. Dit gee my ʼn selfvertroue wat ek nie gehad het nie. Ek het nog altyd ʼn droom en ʼn prentjie in my kop en ek is nog al die pad besig om te werk om daardie prentjie ʼn werklikheid te maak. Ek gaan aanhou tot ek dit regkry, selfs al neem dit 20 jaar vir mense om dit te waardeer.”

Jacques Leonard. (Foto: Casper Labuschagne)

Hy put inspirasie vir sy musiek uit dit wat hy in die samelewing waarneem. “Ek is oopkop en hou van almal se idees. Ek vat iets uit alle gesprekke waarvan ek deel is en probeer om almal se menings so te verwerk dat ek alle opvattings kan respekteer om sodoende ʼn beter weergawe van myself te wees.”

Op hoërskool het hy homself leer kitaar speel nadat die musiekgroep Straatligkinders sy oë laat blink het om ook musiek te maak. “Ek wou net so cool wees soos hulle, toe kry ek ʼn tweedehandse kitaar. Ek kon nooit ander mense se musiek speel nie, so ek het my eie musiek gemaak. Dit het my gedwing om myself te leer speel en musiek skryf,” vertel Leonard.

Hy gee toe dat hy sy denkwyse oor die bedryf moes verander – uiteindelik het hy besef hoeveel werk dit verg om luisteraars te werf.

“Jy dink mense gaan jou ontdek. Jy dink jy gaan môreoggend wakker word en jy gaan van nêrens af 2 000 streams hê. Dit was my mindset, want ʼn mens verstaan nog nie die bedryf nie en jy besef nie hoeveel werk dit is om mense sover te kry om na jou musiek te luister nie.”

Dit is ook die tema van die liedjie “Gee my net kans”. “Ek praat half met mense wat reeds na my musiek luister en ook met mense wat nog nie na my musiek geluister het nie. Dit is belangrik dat mense die kuns nou moet waardeer en nie moet wag wag tot die kunstenaar sterf om sy werk te deel of prys nie. Gee mense wat anders is en anders klink, wat ook die taal wil bevorder, ook ʼn kans.”

Met die musiekvideo vir “Gee my net kans” wou hy ʼn eenvoudiger konsep uitbeeld as met sy vorige video’s. Casper Labuschagne is die videograaf.

“Mense in die bedryf het vir my gesê my video’s is goed, maar die algemene kyker wil soms net na ʼn video kyk en ontspan sonder om te veel te dink. Ek het daardie konsep gevat en self in die liedjie geklim en hom uitgeleef. Partykeer is eenvoud baie kragtiger as wat jy dink.”

Jacques Leonard se musiek is op alle groot digitale platforms beskikbaar. Kyk hier na sy musiekvideo’s. Volg hom op Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.