Musiekster om dop te hou: Matthew John Duncan

Matthew John Duncan.

Die platemaatskappy David Gresham Records het onlangs ʼn landwye “Sing for Us”-talentsoektog na die beste opkomende musikante in die land van stapel gestuur om vars stemme vir die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te vind.

Dié soektog het die talentvolle musikant Matthew John Duncan opgelewer, wat vandag sy eerste enkelsnit, “Roep”, amptelik uitreik.

Duncan (26) woon tans in die Paarl en tussendeur die kompleksiteit van sy lirieke en lekkerluister-melodieë van sy musiek vind dié Kapenaar sy eie unieke balans. Hy vertel dat hy met dié snit vir die eerste keer sy hand aan Afrikaanse lirieke gewaag het.

“My ma het my altyd aangemoedig om ook Afrikaanse musiek te sing, maar ek was bang daarvoor om in Afrikaans te skryf, want dit is baie moeilik,” bieg die sanger en liedjieskrywer.

“Ek luister na mense soos Spoegwolf en Laudo [Liebenberg, oorspronklik van die Engelse groep aKing], wat nou in Afrikaans musiek maak en kyk na hoe hulle alternatiewe Afrikaanse musiek gewild maak. Ek wou dit ook ʼn kans gee.”

Volgens Duncan is dit ʼn liefdeslied wat handel daaroor om steeds jouself te wees binne ʼn verhouding. Hy en Phyline, sy vrou, was agt jaar saam voordat hulle vroeër vanjaar getroud is.

Phyline verskyn ook in sy musiekvideo vir “Roep”, wat reeds in Mei vanjaar bekend gestel is. Hy vertel die skiet van die musiekvideo is telkemale in die wiele gery – eers toe die regisseur, Kobus Potgieter, se motor met sy toerusting daarin gesteel is en daarna weer toe die afsonderingstydperk ingestel is.

“Ons het toe sommer die Woensdag voor die staat van inperking sou begin in die kar gespring en Swellendam toe gery om die video te skiet. Die video beeld hoofsaaklik ʼn reis op ʼn lang pad uit, waar ek eers stil staan, dan stap en uiteindelik hardloop tot waar ek my vrou bereik.”

Duncan is die eerste persoon wat ʼn platekontrak deur die “Sing for Us”-veldtog losgeslaan het. “Woorde kan nie beskryf hoe opgewonde ek is om by David Gresham Records aan te sluit nie. Die feit dat een van die oudste platemaatskappye in die land veldtogte soos dié gebruik om jong kunstenaars ʼn geleentheid te gee, is baie innoverend. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid.”

Matthew John Duncan in die musiekvideo vir ‘Roep’.

Hy vertel hy het binne enkele dae terugvoer van die platemaatskappy ontvang nadat hy sy video vir oorweging ingestuur het.

“Dit is ʼn massiewe eer en ek sien baie daarna uit om saam met hulle te werk. Dit is baie lekkerder om saam met ʼn span te werk as om dit alleen aan te pak.”

“Roep” is tans in die sewende plek op die Bok Radio Top-30. “Dit is in alle aspekte oorweldigend om musiek te maak. Jy gee ʼn deel van jouself en jou denke, en as mense daarvan hou, is dit ʼn super high,” sê Duncan.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.