Musiekvideo: Hansie Roodt dra debuutsnit op aan seuntjie

Hansie Roodt. (Foto: Verskaf)

Die musikant en liedjieskrywer Hansie Roodt is al sedert die ouderdom van 16 in die musiekbedryf doenig as kitaarspeler vir ander kunstenaars.

Hansie, wat tans as Samantha Leonard van Die Kontrak 2-faam se kitaarspeler optree, maak egter nou sy debuut as solokunstenaar met die liedjie “My wolf”.

Die lirieke vir “My wolf” is geïnspireer deur Hansie se pa, Hansie Roodt snr., die befaamde kitaarspeler wat oorlede is toe Hansie 16 jaar oud was, en Hansie se skoonpa, die geestelike leier en musikant, Jannie Pelser. Jannie is self ʼn baie bekwame klavierspeler.

“My wolf” is gewaarborg om pappa-harte reg deur die bank te vermurwe. Die liedjie is uit Hansie se eie pen en is aan sy seuntjie opgedra.

“Ek wil hê my seuntjie moet weet dat hy vir niks hoef terug te staan nie, en dat hy op groot skouers staan en my trots is,” sê Hansie oor die boodskap van “My wolf”.

“Toe ek getroud is, het ek die ongelooflikste skoonpa bygekry. Hy het een van die mooiste harte in die heelal. Ek het eendag na my seuntjie gekyk en besef die bloed wat deur sy are vloei, is die bloed van twee enorme ikone. Hy moet dit weet.”

Volgens Hansie is “My wolf” vir hom ʼn kosbare liedjie, aangesien hy sy pa op ʼn jong ouderdom verloor het.

“Ek wil die beste maak van die tyd wat ek en my seuntjie saam het. Ek is seker die lirieke van die liedjie spreek tot elke pa. Die trots, die hoop en die beskerming.”

Hansie het self die kitare vir die lied gespeel, terwyl die tromme en baskitaar regstreeks opgeneem is aangesien dit die klank is waarvan Hansie hou. Sy vrou het die harmoniegedeeltes gesing.

“Ek hou nie daarvan as alles deur ʼn rekenaar gedoen word nie en ek hoop mense sal dit waardeer,” sê Hansie, wat ook saam met Jeanette Pretorius in die groep, Heuning, optree.

Vir die konsep van die musiekvideo vir “My wolf” het Hansie ou video’s van sy pa en skoonpa gebruik. Hansie wys dan op ʼn skerm vir sy seuntjie wie oupa Hansie is en wie oupa Jannie is.

“Dit beklemtoon net weer dat ek wil hê dat my seun moet weet op wie se skouers hy staan en dat hy nie hoef bang wees nie. Dié wat voor hom gekom het, het groot dinge vermag en hy kan ook.”

Die musiekvideo is geskiet in ʼn leë kerksaal by Rant en Dal Prisma. Mike Ramasimong, Charles Geer, Houlson Beauty en Werner Maartens was betrokke by die video. Coert Erasmus het die regie behartig.

“My wens is dat ‘My wolf’ elke pappa, of eintlik enige ouer, sal bemoedig om dadelik na sy seun te gaan, hom vas te hou en vir hom te sê dat hy ongelooflik lief is vir hom.”

“My wolf” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “My wolf”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.