Musiekvideo: Herman Kleinhans pen afskeidsbrief aan geliefde oom

Herman Kleinhans. (Foto: Maryke Kleinhans)

Die dood as ʼn tema behoort somber te wees, maar met sy jongste enkelsnit, “Geniet die rus”, kry Herman Kleinhans dit reg om ʼn hartseer boodskap in ʼn viering van die lewe te omskep.

Die musikant vertel dié liedjie uit sy eie pen is ʼn afskeidsbrief aan ʼn geliefde oom en familievriend, Melcus Nel. Oom Melcus was nie net ʼn vriend nie, maar ook ʼn held, het hy gesê.

“Die woordeboek beskryf ’n held as iemand wat beny word vir sy of haar dapperheid, ongewone prestasie en eerbare eienskappe. Ons almal ken mense wat aan hierdie definisie voldoen en vir my was dit oom Melcus.”

Oom Melcus, ʼn suksesvolle sakeman, is onlangs oorlede in die ouderdom van 61.

“Hy was geen gewone ou nie. Met sy liefde vir mense, talente en ywer het hy ’n kleurryke lewe gelei. Hy het ’n reusehart gehad met kamers waarin talle mense ’n tuiste kon vind.

“Die vrugte van sy arbeid was nooit sy eie nie, want dit is uitgedeel aan talle behoeftiges wat dit nodiger as hyself gehad het.

“Hy het geleef om deur harde arbeid sy gemeenskap op te lig, en het talle opleidingsentrums opgerig waar mense hulself kon verryk. Hy het sy naaste liewer gehad as homself.”

“Geniet die rus” word beskryf as ʼn boere-discosnit, en die lirieke maak dit duidelik dat oom Melcus saam met al die groot name van ons tyd hoort: Madiba, Freddie Mercury, Meatloaf, Marilyn Monroe, Arnold Palmer en Joost van der Westhuizen.

“Of oom Melcus die kans kry om vandag saam met Madiba kaart te speel, of ’n sigaar te rook met sy naam op, bly maar alles oorgelaat aan die verbeelding. Ek wil met die liedjie vir oom Melcus sê, ‘Ongeag, geniet die rus’.”

“Geniet die rus” is nou beskikbaar op Herman se splinternuwe kortalbum, Kranse, op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.