Musiekvideo: Nou dans Riaan Grobler éérs

Riaan Grobler. (Foto: Picture Perfect Studios Centurion)

Die liefde wil net nie lekker vir hom uitwerk nie, maar nietemin vier Riaan Grobler vandeesmaand weer die liefde met ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld, “En dan dans ons”.

Dié gewilde radio-omroeper en sanger wat tans daagliks op Pretoria FM te hoor is, verwys spottend na sy en Jennifer Zamudio se vorige treffersnit, “Liefdeshartaanval”, wanneer hy oor sy liefdeslewe praat.

“Tog het ek die kuns bemeester om oor die liefde, wat soms suurlemoen en ander kere aarbeie is, te kan sing sonder dat die liedjie te soetsappig oorkom,” het Riaan gesê.

Sy nuwe snit, “En dan dans ons”, beskryf die emosies wat saam met die liefde gepaard gaan: Twee mense wat diep lief is vir mekaar en niemand anders nodig het nie.

“’En dan dans ons” vertel die verhaal van mense wat op ’n strand om ’n vuur kuier en kyk hoe die maanlig oor die branders skyn.

“Dan, net daar op die strand besluit hulle om te dans. Sonder musiek. Sonder ander mense. Net hulle twee. Op hulle eie ritme, met net hul liggame wat die tempo bepaal.”

Riaan saam met Mari en Marius Oosthuizen op die stel van die musiekvideo. (Foto: Facebook/Riaan Grobler)

Die konsep van die musiekvideo is Riaan se eie. Hy het aan Maroela Media gesê hy wou nog altyd ʼn video met ʼn troutoneel maak.

“My kollega, Mari Oosthuizen, en haar man, Marius, het vir my so beeldskoon gelyk op hulle troudag dat ek hulle gevra het of hulle sal omgee as ons hulle troudag vir die video herskep. Mari pas nog in haar trourok en ʼn goeie vriend, Justin Botha, het sy tuin vir ons geleen.”

Sy vriende en familie verskyn ook in die video, asook dr. Hannes Janse van Rensburg, wat die dominee vertolk.

“Dit het baie goed gepas by die lirieke van die liedjie, omdat dit ʼn liefdesliedjie is en omdat mens altyd so lekker op ʼn troue dans,” het Riaan gesê.

  • Riaan en Pretoria FM het ter viering van die uitreik van “En dan dans ons” ‘n kompetisie met groot pryse op die spel van stapel gestuur. Een gelukkige aanhanger kan ’n week saam met Riaan in die Kaap wen, en onder meer in die Radisson Blu-hotel by die Waterfront tuisgaan. Die naaswenner kan eersdaags met ’n skildery van Dawie Mocke teen die muur spog. Besoek Riaan of Pretoria FM se Facebook-bladsye om vir die kompetisie in te skryf.

“En dan dans ons” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.