Musiekvideo: Willem van der Ryst hou ‘knipmes-aand’

Willem van der Ryst. (Foto: Verskaf)

Die sanger en liedjieskrywer Willem van der Ryst se splinternuwe musiekvideo vir die snit “Knipmes-aand” is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Die liedjie handel oor ʼn naweek in die Bosveld waar die manne byeenkom om lekker te kuier, sê Van der Ryst oor dié snit uit sy eie pen.

Hy behartig ook die kitaar en mondfluitjie op die snit. “Die lirieke vertel die storie van die manne wat vir ʼn naweek in die Bosveld bymekaarkom met hul koelbokse, lekker gesellig om ʼn vuur wat brand en ʼn skaap op die spit.

“Natuurlik is daar geen bykosse of eetgerei ter sprake nie, want die ouens eet die skaap sommer net so van die spit af met hulle knipmesse, vandaar dan die titel ‘Knipmes-aand’.

“Die opgewekte klank van kitaar en mondfluitjie behoort enigeen se voete te laat jeuk.”

Die musiekvideo is deur Wian van der Walt geskiet en geregisseer en deur Vonk Musiek vervaardig.

Van der Ryst se nuwe vollengte album sal teen einde van die jaar uitgereik word. “Knipmes-aand” asook sy vorige enkelsnit, “Buffelram”, sal in dié album verskyn.

“Knipmes-aand” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.