Musiekvideo: Wit Kasteel tref met ‘Toegewyd’

Die rockgroep Wit Kasteel se jongste enkelsnit, “Toegewyd”, is in Junie vanjaar vrygestel en nou is dié dinamiese groep se musiekvideo ook beskikbaar.

Die video is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien. Die groep het die liedjie self geskryf en dit is saam met Hugo Ludik van Muse Studios aanmekaargeslaan.

“Die liedjie gaan oor die moeilike tye in die lewe. Die doel is om mense te bemoedig om in sulke tye ‘toegewyd’ te bly aan hulleself, om aan te hou en deur te druk,” sê die groep oor die boodskap van die liedjie.

“Jou verlede bepaal nie jou toekoms nie, maar eerder jou positiewe gesindheid. Die moeilike tye bou karakter. Moet dit nie vergeet nie, maar leer daaruit en gebruik dit tot jou voordeel.”

Die snit, wat beskryf kan word as kommersiële rock, val lekker op die oor en sal aanklank vind by luisteraars van alle ouderdomme. Volgens die manne is hierdie soort liedjie presies wat mense in hierdie tyd nodig het.

“In die situasie waarin ons onsself bevind, dink ons dit is ʼn belangrike boodskap. Ons het al dikwels gevoel dat die toekoms onseker is, vir ons persoonlik en ook in ons onderskeie loopbane. Daar was vantevore gevalle van valse hoop en menige struikelblokke, maar ons het ons kenne hoog gehou en deurentyd hard gewerk vir wat ons wil hê.”

Die musiekvideo is vervaardig deur Damien Els en Steven Brooks Hartman, terwyl Els ook die regie behartig het. Die konsep was oorspronklik Clemond Gregory Dartnell, hoofsanger van die groep, se idee.

Die storie gaan oor ʼn danser, Cara-lee Crafford, wat gefrustreerd is en sukkel met haar dansroetine. Sy bly egter toegewyd en kom die mas op aan die einde van die video. Die video is in ʼn skuur in Johannesburg geskiet.

Die res van die groep bestaan uit Ernst Nieuwoudt (kitaar), Reinard Kruger (baskitaar en agtergrondsang) en Waldemer Behr (tromme en sang).

“Ons voel dat ons ʼn baie unieke klank na die musiekmark bring wat nog nie bestaan nie. Klassieke rockmusiek is vir ons die lekkerste om te speel, juis omdat dit die beste stories vertel. Ons wil graag die beste verhale met luisteraars deel.”

“Toegewyd” is die eerste vrystelling vanaf die groep se tweede album wat later vanjaar beskikbaar sal wees. Laai die liedjie hier af.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.