Musiekvideo: Wouter van de Venter ‘stel haar voor’

 

ʼn Alleenloper op ʼn soektog na liefde in ʼn klein Weskusdorpie, ʼn plaaslike watergat en ʼn waaghalsige ontmoeting.

Dít is waaroor Wouter van de Venter in sy nuwe enkelsnit, “Stella voor”, sing. Die titel sinspeel op die woorde “stel haar voor” en is ʼn tong-in-die-kies-wyse om ʼn ontmoeting tussen twee enkellopendes voor te stel.

“Ons hoor so dikwels, ‘die wêreld is so klein!’, maar hoe klein is dit nou eintlik?”

“Die wêreld is so klein dat jy ʼn denkbeeldige lyn van jouself na enige ander persoon op aarde kan trek deur te begin by een van net ses van jou kennisse,” sê Wouter.

In “Stella voor” is dit juis waaroor Wouter sing: ʼn Alleenloper wat sy oog op ʼn nooi met die naam Stella het, ʼn vriend wat dié twee aan mekaar voorstel en “Stella voor” wat uiteraard daaruit gevloei het.

In alle eerlikheid, erken Wouter, is die naam waaruit hy inspirasie vir die liedjie geput het nie ʼn nooi nie, maar sy hond Stella. Die idee het verder geblom toe ʼn vriend by hom kom kuier het en skertsend gesê het: “Stella – Stella voor!”

Dié liedjie, eg aan Wouter se musiekstyl, vertel ʼn lekkerluister-storie, nes talle van sy ander liedjies soos “As die hippies begin dans”, “My bok” en “Sonneblom”.

Die musiekvideo is by Die Watergat in Langebaan geskiet, en is van begin tot einde deur Wouter self konseptualiseer. Hy beskryf die proses as senutergend, aangesien hy moes bontstaan as musikant, vervaardiger, regisseur en akteur. As jy hom vra wat die lekkerste deel van die proses was, antwoord hy bloot: “Daai brandewyn en Coke wat jy drink sodra die hele storie klaar geskiet is.”

Wouter, ʼn boorling van Gqeberha (Port Elizabeth) put inspirasie uit kunstenaars soos Anton Goosen, Koos Kombuis en Sting, hoewel hy steeds sy vrou as sy grootste muse beskou.

Kyk hier na “Stella voor” se musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.