Nuwe akoestiese album vir Janie Bay

Janie Bay het onlangs die klankgolwe getref met die snit “Jammer” en “Die heelal” saam met Early B. Nou is haar eerste akoestiese album, In die sitkamer, pas uitgereik.

Bay wou aanvanklik vanjaar ʼn vollengte album opneem, maar met die inperkingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie was daar nie toegang tot ateljees nie en kon musikante ook nie bymekaar kom om liedjies op te neem nie.

Bay, wat onlangs Kaap toe verhuis het van Gauteng af, het besef dat sy wel ʼn akoestiese album sou kon opneem, aangesien die proses net so eenvoudig is soos die liedjies self.

Die album is in ʼn sitkamer opgeneem in die groep Spoegwolf se huis en vandaar die naam van die album.

“Ek dink die album is perfek vir ʼn road trip of selfs om by ʼn braai te luister, of op ʼn Sondagoggend in die bed met ʼn koppie koffie en beskuit.”

Sy vertel sy het tydens die inperking rustiger gevoel wanneer sy op haar akoestiese kitaar gespeel het.

“Daar is iets vertroostend aan akoestiese musiek en daarom, ten spyte van die tegniese noodsaak van ʼn kleiner produksie, voel dit sommer ook vir my reg om nou in hierdie tyd ʼn rustige, sielvolle album uit te reik.”

Janie Bay. (Foto: Marguerite van Eeden)

In die sitkamer bied agt akoestiese liedjies wat die afgelope jaar se drie treffers insluit, ʼn duet met Hunter Kennedy, “Wag vir jou”, asook ʼn nuwe liedjie getiteld “Herfs.” “Sterrebrand” en “You Are my Sunshine”, wat sy aanvanklik vir die fliek Stroomop opgeneem het, kry ook in dié album ʼn nuwe baadjie.

Daar is ook ʼn weergawe van Elvis Presley se treffer “Can’t Help Falling In Love With You”.

Haar Afrikaanse enkelsnitte “Amper daar”, “Die heelal” en “Jammer”, wat die afgelope jaar en ʼn half deur Warner Music South Africa uitgereik is, het verskeie no. 1-posisies behaal en is volgens RadioMonitor.com gesamentlik reeds meer as 3 000 keer op Suid-Afrikaanse radiostasies landwyd gespeel. “Jammer” is vandeesweek no. 1 op Jacaranda FM se SA Top-20.

In die sitkamer is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.