Onafhanklike sangers, musikante vereer met Afri-Indie-pryse

Gert van Tonder is een van die musieklegendes wat vir lewenslange bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf vereer is. (Foto verskaf)

Die musieklegendes Sonja Herholdt, Rina Hugo, Gert van Tonder, Johan van Rensburg en Steve Hofmeyr is Dinsdagaand tydens die Afri-Indie-musiektoekennings in die AfriForum Teater in Menlopark, Pretoria, vir hulle lewenslange bydrae tot die plaaslike musiekbedryf vereer.

Die Heuwels Fantasties is as die beste musiekgroep aangewys terwyl Joshua na die Reën die prys vir die beste manskunstenaar en Irene-Louise van Wyk die prys vir die beste vrouekunstenaar ontvang het. Boonop het Van Wyk ook spesiale merietepryse ontvang vir die Afrikaanse treffer wat die meeste gestroom is.

“Haar snit ‘Tekkies brand’ maak geskiedenis omdat dit al meer as ses miljoen keer gestroom is en ook daarin geslaag het om die topposisie op iTunes en Spotify se Afrikaanse speellyste vir etlike weke aan een te behou,” het Rea le Roux, hooforganiseerder van dié musiektoekennings, gesê.

Dirk van der Westhuizen en Irene-Louise van Wyk. (Foto verskaf)

Le Roux meen die Afri-Indie-toekennings het daarin geslaag om op die sukses van die eerste geleentheid in 2021 voort te bou en uit te brei.

“Ons toekenningsgeleentheid fokus op onafhanklike kunstenaars en wil erkenning gee aan die beste van die beste werk wat hier gedoen word.”

Le Roux het bygevoeg dat met die nuwe ontwikkelings in tegnologie en groei van sosiale media is dit moontlik vir onafhanklike kunstenaars om op kreatiewe maniere reusesukses met hul musiek te behaal.

“Talle van hierdie sangers se musiek is miljoene keer gestroom en op dié manier neem hulle Afrikaanse musiek op hulle eie manier na ʼn volgende vlak. Dit is aan hierdie markleiers wat ons erkenning wil gee vir die gehaltewerk wat hulle lewer.”

Die benoemdes vir ʼn Afri-Indie-prys sluit musiekgroepe soos Spoegwolf, Van Pletzen, Straatligkinders, Saarkie en die Kaapse alternatiewe groep Mymymy in.

Le Roux het gesê dit is veral die Afri-Indie-musiektoekennings vir lewenslange bydraes wat haar veral na aan die hart lê. “Dit is vir ons ʼn manier om die groot geeste te vereer wat reeds meer 40 jaar hard werk om Suid-Afrikaanse gehore te vermaak.

“Ons verstaan die enorme opofferings wat kunstenaars soos Sonja, Rina, Gert van en Johan gemaak het om deur die jare gehaltevermaak na plaaslike gehore te bring.”

Sonja Herholdt ontvang haar Afri-Indie-prys. (Foto verskaf)

Van die ander wenners is:

  • Straatligkinders – beste mansrock-groep en beste rock-musiekvideo.
  • Saarkie – beste vrouerock-groep, beste alternatiewe album, alternatiewe enkelsnit en beste rock-enkelsnit.
  • Spoegwolf – beste alternatiewe groep en beste alternatiewe musiekvideo.
  • Van Pletzen – beste alternatiewe danspop regstreekse optrede en beste alternatiewe danspop-musiekvideo.
  • Mymymy – beste alternatiewe gesintetiseerde pop-musiekvideo.
  • Sone Joubert – beste algemene enkelsnit, beste regstreekse vrouesolokunstenaar.
  • Rudi Claase – beste volwasse kontemporêre album en beste regstreekse manskunstenaar.
  • Dirk van der Westhuizen – beste danspopalbum, beste danspop-enkelsnit, beste danspop regstreekse kunstenaar.
  • Jennifer Zamudio – beste vrouepopalbum.
  • Pieter Rischmuller – beste southern rock regstreekse optrede, beste southern rock enkelsnit, asook musiekvideo.
  • Vatvas Dansorkes – beste tradisionele album.
  • Armand Hofmeyr – beste manspopalbum en beste pop-enkelsnit.
  • Rayne is as die beste nuweling aangewys en Dodo het die prys vir die beste enkelsnit vir ʼn nuweling ontvang.

Matt Stern en Anza Naude saam met Dodo wat die Afri-Indie-prys vir die beste enkelsnit van ‘n nuweling gekry het. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.