Ouderdom is net ’n nommer vir dié kunstenaar

C-Storm. (Foto: verskaf)

Op 50 het die kunstenaar wat onder die naam C-Storm musiek maak die bul by die horings gepak deur ’n kans op sy musiekdroom te waag.

Vir jare was sy kitaar iets wat net oë gewys het wanneer ’n vuurtjie aangesteek is en ’n vleisie op die kole gegooi is. Tog het C-Storm besef dat sy liefde vir digkuns en passie vir musiek eenvoudig net ʼn weg na die verhoog moet vind.

Hy meen egter dat sy lewenservaring en die gepaardgaande wysheid hom toerus om sy musiekloopbaan op 55 te kan nastreef.

“As ek dit enigsins vroeër in my lewe sou doen, sou ek dit dalk nie gemaak het nie!”

Hy maak nie net musiek nie, maar het ook ’n digbundel op die rakke. Hy put inspirasie uit dit wat rondom hom gebeur, en sy vinger is altyd op die pols van iets wat die woorde weer sal laat vloei.

“Ek hou daarvan om stories te vertel. Dit kom uit ʼn mens se verlede uit, uit ander mense se ervarings. Soms maak die Here jou twee uur in die oggend wakker met iets wat op jou hart is.”

Sy splinternuwe enkelsnit, “Môre sal die son weer skyn” is ’n liedjie wat na aan sy hart lê.

“Ek wil musiek skryf wat mense laat ontspan. Ek wil vir hulle sê dat hulle rustig moet raak en dat die son weer môre sal skyn.”

Die musiekvideo van dié treffende liedjie kan as ’n gesinspoging beskryf word. C-Storm se dogter, Abigail, is ’n tiener wat entoesiasties haar tegnologiese talente ingespan het om haar pa by te staan. Sy was die een agter die kamera met die opneem van die musiekvideo.

C-Storm is trots wanneer hy vertel dat hulle die musiekvideo van “Môre sal die son weer skyn” in sowat drie uur voltooi het. Op ’n Kaapse strand het die sanger en sy dogter nie net die konsep van die video aanmekaar geslaan nie, hulle het dit sommer net daar opgeneem ook.

“Sy het nie enige videografiese agtergrond nie. Sy het egter yslike vernuf op sosiale media,” vertel hy.

“Ek kon dit nie glo toe sy dit vir die eerste keer vir my wys nie, en dit alles op ’n selfoon gedoen. Die kinders van vandag en die tegnologie is ongelooflik.”

Dit is ook vir hom belangrik om ’n unieke musiekstyl te kweek in plaas daarvan om herhaaldelike, polsende klanke te skep.

Hy dink nostalgies terug na iemand wat eens vir hom gesê het dat sy musiek hom herinner aan dié van Koos du Plessis en Lucas Maree.

Op tienjarige ouderdom het hy homself probeer leer tokkel op die kitaar, hoewel dit destyds moeiliker was as vandag.

“Die kinders van vandag is baie bevoorreg. Daardie jare was dit nie so maklik om ’n kitaar te kry en te leer speel nie.”

Hy het op die ou einde formele kitaarlesse gekry, hoewel die rede daarvoor nie noodwendig in musiek gegrond was nie.

Skertsend merk hy op dat daar ’n beeldskone meisie in daardie einste kitaarles was en dat dit op die ou einde die dryfkrag agter sy formele kitaaropleiding was.

Luister hier na “Môre sal die son weer skyn”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.