Proe’toria-fees: Kos, musiek trakteer weer Pretorianers

Die Proe’toria-fees slaggereed om in 2023 weer te bewys waarom dié fees jaarliks een van die Jakarandastad se gewildste musiekfeeste is. (Foto: Facebook/Proe’toria)

Met van die land se grootste kunstenaars op een verhoog, is die Proe’toria-fees slaggereed om in 2023 weer te bewys waarom dié fees jaarliks een van die Jakarandastad se gewildste musiekfeeste is.

Die fees vind op Saterdag 4 Maart en Sondag 5 Maart oudergewoonte op die uitgestrekte landgoed van die gewilde Monte de Dios-venue in die ooste van Pretoria plaas.

Feesgangers kan weer uitsien na uitgesoekte kos-, lekkerny-, kuns-, jenewer-, kunsbier- en wynstalletjies, met die grootste name in die musiekbedryf op een verhoog.

Die kunstenaars sluit in onder andere Sunset Sweatshop, Die Heuwels Fantasties, Karlien van Jaarsveld, Martin Bester, Irene-Louise van Wyk, Joe Niemand, Ricus Nel, Demi Lee Moore, Jemma Catherine en Die Kontrak-wenner, Samantha Leonard.

“Die Proe’toria-fees is elke jaar ʼn groot gebeurtenis op die Gautengse feeskalender. Ek wou nog altyd daar optree en sien uit daarna om volgende jaar my geliefde aanhangers daar te sien,” sê die blondekop-popster Irene-Louise van Wyk.

Die fees word weer by Monte de Dios aangebied. (Foto: Facebook/Proe’toria)

Sy was vanjaar saam met mede-popsterre Karlien van Jaarsveld, Demi Lee Moore en Samantha Leonard, asook die musikant Ricus Nel vir die eerste keer op die Afrikaans is Groot-konserte te sien.

“Die fees verteenwoordig vir my alles waarvan ons Suid-Afrikaners hou, op een plek saamgevat. Lekker eet, lekker kuier en lekker vermaak,” voeg Ricus Nel by.

Feesgangers het nou die kans om dié goue name almal op een verhoog te sien teen ʼn reuse- afslag: Op Vrydag 25 November bied die Proe’toria-fees ʼn Black Friday Early Bird Special aan wat nie misgeloop moet word nie. Koop een kaartjie en kry 50% afslag op die volgende een – ʼn paartjie bespaar dan meer as R200. Die aanbod geld slegs vir dieselfde soort kaartjies en op 25 November 2022 vanaf 00:15 tot 23:55.

Early Bird VIP-kaartjies is ook teen ʼn spesiale prys vanaf 25 November 22 tot 15 Januarie 2023 beskikbaar teen slegs R350 elk – feesgangers bespaar R150 per kaartjie in die tydperk.

Gewone kaartjies wat tydens die fees by die hekke gekoop word, sal R250 elk kos, en dus word feesgangers aangeraai om eerder aanlyn teen ʼn spesiale fooi kaartjies te koop – voor dit uitverkoop word. Daar is jaarliks slegs ʼn beperkte aantal kaartjies beskikbaar en kinders onder 12 kan die fees gratis bywoon.

Wian Smith-Venter, uitvoerende hoof van The Marketing Zoo, benadruk dat hoe vroeër jy jou bywoning bevestig, hoe goedkoper is dit.

“Dit is baie belangrik dat feesgangers van die Black Friday Early Bird Special – ʼn ongelooflike afslag – gebruik maak, juis omdat daar geen ander promosies aangebied word totdat die fees plaasvind nie,” sê Smith-Venter.

Dié Proe’toria-fees word moontlik gemaak deur Belgravia, EPH Group, Monte de Dios, Maroela Media, Pretoria FM, Caring Daisies, kykNET, Ontbytsake, LIFT, Insight Outdoor, The Marketing Zoo en MitMak Motors.

“Ons is ongelooflik opgewonde oor volgende jaar se Proe’toria-fees. Feesgangers wat vantevore die fees bygewoon het, sal getuig dat dit een van die prettigste en opwindendste feeste in Gauteng en jaarliks ʼn belewenis vir die hele gesin is. Ons doen alles moontlik om dit lekker te laat proe,” sê Leon Pheiffer, medestigter en uitvoerende hoof van die Proe’toria-fees.

“Ek kan nie wag om in Maart 2023 weer duisende musiekliefhebbers, feesgangers en uitstallers op een terrein te sien nie. Dis altyd lekker om deel van Proe’toria te wees,” sê Martin Bester.

Die Proe’toria-fees vind op 4 en 5 Maart 2023 plaas en ʼn dagkaartjie moet vir elke dag gekoop word. Slegs ʼn beperkte aantal Black Friday Early Bird Special-kaartjies is beskikbaar, waarna daar verdere kaartjiefases aanlyn beskikbaar is by Tixsa.

Meer inligting kan ook bekom word deur die fees op Facebook en Instagram te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.