SA-sanger in VSA maak Afrikaanse debuut

Emile Welman. (Foto: @instant35digital)

Sedert Emile Welman ʼn paar jaar gelede Suid-Afrika vir die VSA verruil het om sy musiekdrome in die buiteland waar te maak, woon hy as’t ware in sy eie sprokiesland.

Hy en sy Amerikaanse vrou, Shayla Veldhuis, woon tans in Newport Beach aan die kus van Kalifornië, sowat 45 minute se ry van Los Angeles. Wanneer hy nie besig is om te woeker in die musiekbedryf nie, rinkink hulle oor naweke op sy boot of speel gholf.

“Ek is mal oor die leefstyl in Kalifornië, maar ek verlang gereeld na pap, boerewors en Suid-Afrikaners se warmte,” vertel Emile in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Hy het pas ʼn splinternuwe Afrikaanse debuutenkelsnit getiteld “Sprokiesland” uitgereik. Die liedjie is uit sy eie pen en saam met Tertius Human van Vonk Musiek geskryf en vervaardig.

Emile (35), wat ná skool ʼn beurs gekry het om regte aan RAU (nou die Universiteit van Johannesburg) te studeer, vertel hy wou eintlik ʼn rugbyspeler geword het voordat gesondheidsprobleme ʼn stokkie voor dié droom gesteek het.

Hy het later deel geword van die a capella groep Overtone, wat wêreldwyd groot hoogtes bereik het. Die Hollywoodse rolprentregisseur Clint Eastwood se (nou eks-) vrou, Dina Ruiz, het in 2009 die groep in Kaapstad raakgesien toe hulle in Suid-Afrika aan die rugbyrolprent Invictus gewerk het.

Eastwood het uiteindelik ʼn paar Overtone-snitte op die klankbaan van die rolprent gebruik en vandaar het talle deure in die buitelandse musiekbedryf vir dié sanggroep oopgegaan.

Emile jare gelede saam met die werklikheidster Kim Kardashian. (Foto: Facebook/Emile Welman)

Hulle het onder meer saam met bekendes soos die Oscar-wenner Charlize Theron, hoteleienaar Steve Wynn en die ikoniese musikant Tony Bennett gewerk. Hulle het ook die verhoog gedeel met OneRepublic, Corinne Bailey Rae, Kevin Bacon en vervaardiger David Foster.

Overtone het ook op The Ellen DeGeneres ShowThe Late Late Show with Craig Ferguson en Lopez Tonight verskyn en verskeie Suid-Afrikaanse Vonk-musiektoekennings gewen.

Dinge het egter op ʼn ramp afgestuur toe Eastwood en Ruiz aangekondig het dat hulle gaan skei. Overtone se sukses was in gedrang en die ouens wou huis toe kom na hulle families toe.

“Jy kan hulle nie kwalik neem daarvoor nie. Dit is toe ek besluit het ek gaan alleen ʼn musiekloopbaan in Amerika aanpak, want ek het ʼn glimp gesien van wat dit kan wees. Ek kan jou wel sê die eerste twee jaar op my eie was dit verskriklik moeilik.”

Emile vertel dit was ook moeilik om die nuus aan sy ouers op Plettenbergbaai te breek dat hy sak en pak VSA toe wil verhuis.

“Ek het alles verkoop wat ek hier gehad het, insluitende my motor. Daar gekom het ek soveel as moontlik gesing, maar aan die begin het ek ʼn ekstra werkie gedoen om die huur te betaal. Twee jaar later het mense my erkenning begin gee as kunstenaar en my dagboek het voller begin raak. Ek moes my tyd neem en ʼn goeie ondersteuningsnetwerk opbou.”

Nou is hy voltyds besig met musiek in die VSA en werk hy soms dwarsdeur die nag in die ateljee om musiek te skryf en vervaardig. Hy het ook besluit dit is tyd om op eie bodem en in sy moedertaal ʼn liedjie uit te reik.

“Sprokiesland” is geïnspireer deur Emile en Shayla se eie liefdesverhaal. “Sy het saam met my by my ouers op Plettenbergbaai gaan kuier toe sy die eerste keer saam met my Suid-Afrika toe gekom het. Ons het uitgegaan en op die strand wyn gedrink en heerlik gaan eet. Dit was die eerste keer wat ons werklik smoorverlief was.”

Emile vertel sy pa, wat intussen oorlede is, het in 2019 ʼn kankerdiagnose gekry. Weens sy pa se diagnose het hy meer gereeld tussen Suid-Afrika en die VSA gependel om sy pa te besoek.

Dit was juis tydens een van dié besoeke dat hy besluit het om met Vonk Musiek in verbinding te tree oor ʼn Afrikaanse enkelsnit.

“Ek is lief vir my land en lê daarom tot vier keer per jaar besoek hier af. As ek musiek in my eie taal kan maak, skep dit ook vir my die geleentheid om hier te werk wanneer ek hier is.”

Hy verklap dat hy lief is vir Afrikaans en dat sy vrou al ʼn hele paar woorde kan praat. “Sy ken veral die vloekwoorde, maar die vraag wat sy die meeste vra is: ‘Waar is my skoene?’”

“Sprokiesland” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.